Lewesprekers
Iemand sê bv. “in Jesus naam, spreek ek lewe oor jou, sodat jy gou gesond sal word” of “ek spreek lewe uit oor jou huwelik” ensovoorts. Hoe moet ek reageer wanneer iemand dit vir my sê of oor my uitspreek?
Ek wil net eers noem, dat ek dink ‘n mens kry twee tipes “Lewesprekers”: die wat wéét wat hulle bedoel wanneer hulle lewe spreek en die wat nie weet wat hulle bedoel wanneer hulle so praat nie. Dit is maar net my observasie – kom ek verduidelik wat ek bedoel:
Die egte Lewespreker
‘n Mens kry mense wat hart en siel glo in “lewe spreek”. Hulle glo ‘n mens se tong het skeppende krag. Iets wat die mens natuurlik nie het nie. Net God kan skep (Gen. 1). Die hart van “lewe spreek” is toordery, hoogmoed en minagting van God. Toordery, want jy glo jy kan iets te voorskyn bring met jou woorde. Dit is hoogmoed, want jy dink ‘n mens besit die mag wat God het, om iets te skep. Minagting van God, want jy dink jy kan God manipuleer om te doen wat jy uitspreek. Die wat dus bewustelik “lewe” wil “spreek” is op gevaarlike terrein en ek dink nie ‘n mens moet hulle uitsprake ligtelik opneem nie.
Luister gerus die Radio Scriptura episode vir meer hieroor:
powered by Advanced iFrame. Get the Pro version on CodeCanyon.
[bctt tweet=”Die wat sg. ‘lewe spreek’ is op gevaarlike terrein…” username=”scriptura_tweet”]
Die onkundige Lewespreker
Ek dink egter ‘n mens kry ook mense wat bloot die taalgebruik van die Lewesprekers oorgeneem het, maar bedoel nie noodwendig daarmee wat egte Lewesprekers bedoel nie. Om lewe te spreek het deesdae nogal “godsdienstige mode” geword en ‘n mens kom agter dat dit in baie mense se gedagtes insypel. Soms sal mense sê “jy moet positief dink en praat, dan sal jy ook die positiewe na jou toe aantrek”. Dit is ook maar lewespreek, in ander woorde. Tog is hierdie mense nie bewus van wat hulle sê nie. Hulle bedoel dalk net dat ‘n mens nie moet kla nie, maar mens moet positief en vriendelik wees (wat inderdaad goed en reg is).
Waar sou ‘n mens kon begin, wanneer iemand “lewe spreek” oor my of my familie?
- bepaal eers of die persoon verstaan wat hy sê. Glo hy sy woorde het skeppende mag, of gebruik hy maar net woorde sonder om te besef wat hy sê?
- indien hy wel ‘n Lewespreker in murg en been is, moet ‘n mens hom daarop wys dat dit onbybels is. Wees sagmoedig, geduldig en vriendelik, maar getuig daadwerklik met indringende stellings soos “ek dink nie ‘n mens kan werklik lewe spreek nie, net God kan”. Of: “ek glo dat die Here lewe spreek deur Sy Woord en Heilige Gees en nie met mense se woorde nie”.
- indien hy nie verstaan wat hy sê nie, moet ‘n mens verduidelik dat die manier waarop hy praat, ‘n ander, onbybelse indruk skep as wat hy bedoel.
Marnix is tans predikant in die Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet.
4 Comments
Baie dankie vir die duidelike wyse waarop hierdie saak beantwoord is.
Sterkte vir julle. En baie groete
Fanie Jooste
faniejoostewt@gmail.com
interessant marnix! die wof kettery is baie wydverspreid soos jy sal weet – sommige mense sal natuulik ook verwys na die apostels wat uitgestuur is in lukas 10 as voorbeeeld dat ‘ons dit ook moet doen’ – miskien kan jy net iets daaroor se, want dit sal ook aansny aan die skares selfaangestelde ‘apostels’ en ‘profete’ in sekere kringe 🙂
in Christus
gabriel smit
Dagsê, Bets, baie dankie vir hierdie vraag. Dit is werklik so ‘n belangrike kwessie – en daarom gee ons graag ‘n antwoord hierop!
Spreuke 18 moet uiteraard binne sy konteks (nader en wyer) beskou word.
Die boek Spreuke is deel van ‘n groep boeke wat ons noem “Wysheidsliteratuur”
(Psalms, Spreke, Prediker, Job, Hooglied)
Ons leer in Spreuke van ware wysheid – wat van God af kom.
Wysheid is om in diens van die Here te leef, en die teenoorgestelde daarvan is om weg van God te wandel en jou nie deur sy Woord te wil laat leer nie.
Spreuke leer ons dan om ons woorde versigtig te kies; want dit dui die toestand van ons harte aan.
So val hierdie verse binne ‘n groter deel in Spreuke, wat strek van Spreuke 17:27-18:21.
Hier leer die Spreukeboek ons oor wysheid in terme van ons monde, ons spraak, ons denke en optrede:
• Ons word geleer om ons woorde reg te gebruik; want wyses praat spaarsamig en met insig. Hulle woorde is soos ‘n vars bries. Goddeloses praat baie maar sê eintlik niks – en dit bring skande.
• Ons word geleer om nie ons ore aan skinderstories uit te leen nie.
• Ons getrouheid of luiheid wys of ons dwaas is of wys
• Verder leer ons dat ons eers al die feite moet aanhoor voor ons ‘n saak aanraak
• En dan, asof daar ‘n dubbelpunt voor die vers staan, kom die gedeelte tot ‘n hoogtepunt wanneer ons geleer word om te let op die krag van ons woorde.
Die Spreukedigter leer ons mooi om te besef dat ons woorde krag het; nie skeppende krag soos God nie; maar dat dit mense kan seer maak. Enkele verse vroeër het die digter self aangedui hoe lewe en dood in die krag van die tong sit:
“Skinderstories word gretig verslind, mense sluk dit so maklik…”
(Spreuke 18:8); deur jou ore uit te leen en ‘partydig vir die goddelose’ te wees; word die ‘regverdige sy reg ontsê’ (Spreuke 18:5). (OAV).
Nou, die ‘vrug van ons mond’ waarvan Spreuke praat, is die gevolge van ons woorde – of dit nou goed of sleg is.
Ons gesprekke stig mekaar. Ons word of deur die goeie, opbouende woorde versadig; of ons drink met duiwelse plesier die skinderstories oor ander in.
Daarom- ons woorde het daadwerklike gevolge. Ons kan mekaar daarmee opbou of afbreek.
Die Here leer ons onder geen omstandighede hier dat ons woorde skeppende mag het nie.
Dit is nie Bybels om ‘lewe te spreek nie’.
Die Here gee boonop nêrens in enigeen van die 66 boeke van die Bybel vir ons ‘n voorbeeld van iemand wat lewe spreek nie.
Wat ons derhalwe in Spreuke 18 het, is niks anders nie; as ‘n samevatting van die voorafgaande gedeelte – en ons kan nie anders as om dit te eien as ‘n verklaring van die negende gebod nie:
Die Heidelbergse Kategismus verklaar dit so:
Sondag 43:
Wat eis die negende gebod?
Ek mag teen niemand valse getuienis aflê nie, niemand se woorde verdraai nie, nie ‘n kwaadsteker of lasteraar wees, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie.
Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring nie.
In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder.
Hoe sou ‘dood’ hiervolgens dan in die mag van die tong wees?
Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (Eks 20:16). Ons vind in die Bybel voorbeelde van waar vals getuienis op die dood uitgeloop het:
• Konigin Isebel het ‘n brief aan die leiers en ampsdraers van Jisreël gestuur om twee gewetenlose manne teenoor Nabot te laat sit wat moes getuig dat hulle hom ‘n vloek hoor uitspreek het teen God en die koning. Toe dit gebeur, is Nabot die stad uitgeneem en met klippe dood gegooi. Agab kon toe Nabot se wingerd in besit neem (1Kon 21:10 – 15).
• Die Joodse Raad het vals getuies teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak (Matt 26:59). Toe die hoëpriester vir Hom vra of Hy die Christus, die Seun van God is, het Hy bevestigend geantwoord. Hy het die waarheid gepraat. Die hoëpriester het gesê dat Hy daardeur God gelaster het. Die Joodse Raadslede het daarop besluit: Hy verdien die dood (Matt 26:66).
Hoe sou ‘lewe’ hiervolgens dan in die mag van die tong wees?
• Wanneer Saul vir Dawid agtervolg ( 1 Samuel 23), dan is hy doodsbeangs dat Saul hom gaan doodmaak. Die Bybel sê dan vir ons in vers 16 : “Daarop het Jonatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En Hy het hom bemoedig in God en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie…”
• In Handelinge 15 kom die kerke byeen om oor die onrus rakende die besnydenis in die gemeentes te gesels. Silas en Judas kom in ‘n gemeente in Antiochie aan en het ‘die broeders met baie woorde bemoedig en versterk…” (Handelinge 15:32)
So is daar baie Bybelse voorbeelde van waar gelowiges mekaar in die geloof bemoedig, opbou – tot eer van God en die bloei van sy gemeente.
Ek hoop dit beantwoord jou vraag! Laat weet gerust as ons met nog iets kan help!
Uit nederigheid het ek ‘n vraag… Wat word dan bedoel met die skrifgedeelte wat handel oor die mag van lewe en dood wat in die tong is (Spreuke 18:21). Baie dankie.