Hierdie tyd van die jaar is meeste mense moeg. Baie van ons sien uit na die vakansie. Ons is moeg gewerk en voel nie altyd asof dit wat ons doen waardeer word nie. Waarom is werk so moeilik? Word ons dalk met werk gestraf? Hoe behoort ons as Christene werk te sien? Is al verantwoordelikheid wat ons by die werk het om so nou en dan iemand te vertel Wie Jesus is?
Werk voor die sondeval
In die begin was daar werk. Ons lees van die eerste vers van die Bybel af oor werk. God werk. Hy skep. Hy het die hemel en aarde geskep. Hy het alles goed geskep. Hy berei die skepping voor. Hy voorsien in oorvloed. Dan skep Hy die mens na sy Beeld. Omdat die mens na God se Beeld geskep is, wys die mens iets van God. Omdat God werk, werk die mens ook. Die mens is geskep om te werk.
Die Here plaas Adam in die tuin van Eden. Daar gee Hy vir die mens alles wat hy nodig het. Hy plaas nie die mens in die tuin om agteroor te sit nie. Hy plaas hom daar om te werk. Hy gee vir die mens werk. Die mens moet bewerk en bewaak. Hy moet in die skepping werk. Hy moet dit wat God geskep het bewerk en verder ontwikkel. Dit is waarvoor die mens geroep word: Om dit wat God in die skepping ingeskape het te ontgin en te ontwikkel.
Wanneer mens werk, is dit diens aan God. Wanneer jy jou werk tot God se eer doen, is jy besig om Hom te verheerlik. Reeds van die begin af was dit God se bedoeling dat mens nie net moet werk nie. Rus is ook nodig. Wanneer ons net aanhou werk, sonder om te rus, dan is ons besig om ’n afgod van werk te maak. Maar rus sonder werk is leeg.
Die mens is gemaak om te werk. Ons het geestelik nodig om te werk. Daarom is dit so moeilik wanneer jy jou werk verloor. Nie net het jy die bekommernis oor hoe jy gaan vir jouself en jou gesin gaan sorg nie, maar jy begin in jou eie waarde twyfel. Jy begin wonder of jy goed genoeg is.
Ons is gemaak om te werk – daarom is elke werk ’n roeping. Mens sê maklik dat om ’n predikant of ’n onderwyser te wees ’n roeping is. Dit is reg. Maar elke werk is ’n roeping. Of jy nou ’n ingenieur, argitek, rekenmeester, petroljoggie, professor, huisvrou, kunstenaar, of wat ook al is – dit is ’n roeping. Ons noem dit nie verniet jou beROEP nie.
Die invloed van die sondeval op werk
God het werk as ‘n seën gemaak, waarom voel dit dan soms soos ‘n straf? As gevolg van die sondeval. Die sondeval het die mens in sy hele wese geraak. Met die sondeval spat die mens se beeldskap aan skerwe. Daar kom afstand tussen die mens en God. Die mens het die dood gebring. Fisies en geestelik. ’n Lewe weg van God. Die sondeval raak nie net die mens nie, maar sy werk en die skepping ook.
Weens die sondeval verander werk. Werk word moeilik. Werk is pynvol. Dit put mens fisies en emosioneel uit. Mens moet hard werk. Met groot inspanning werk. Verder is daar dorings en dissels – moeilike, ongewenste dinge wat mens se werk moeilik maak.
Ons sien hierdie dinge in ons werke. Weens die sondeval is ons werk dikwels sonder vrug. Ons het hierdie wonderlik visie van wat ons wil bereik – maar ons kom nie altyd daarby uit nie. Ons kan iets hoe goed doen en beplan, maar soms val dinge net inmekaar a.g.v. ’n klomp redes. Ons gee ons alles vir iets – om net te sien hoe dit inmekaar stort.
Weens die sonde lyk dit asof werk soms nutteloos is. Ons moet dieselfde dinge oor en oor en oor en oor doen – net om dit die volgende dag weer te doen.
Weens die sonde is werk selfsugtig. Werk gaan nou vir mense daaroor om hulself te bevorder, om self meer te kry, om hul eie behoeftes te bevredig. Al doen jy iemand in. Al trap jy op iemand. Al maak jy ander seer. Solank jy jou eie koninkrykie kan bou.
Werk gaan nie meer oor die verheerliking van God nie, maar oor aanbidding van jouself. Verder openbaar werk na die sondeval ons afgode. Mense werk nie meer vir God se eer nie, maar hul eie voordeel. Om hul afgode te aanbid. Of dit nou geld, besittings, werk self, of trots is.
Werk kry betekenis in Christus
Jesus Christus het gelowiges losgekoop van die sonde en dood. Hy het ons vrygemaak. Hy verander ons deur sy Gees. Hy herstel die mens se beeldskap. Hy maak dat die mens weer tot God se eer kan lewe. Hy maak dat ons werk nie nutteloos is nie, maar groot waarde het. Hy maak dat ons werk ewigheidswaarde het.
Hoe doen Hy dit? Wanneer Hy deur sy Gees in jou werk, verander Hy die doel en fokus waarmee jy werk. Wanneer die Heilige Gees in jou werk maak Hy dit vir jou moontlik om te besef dat jou werk nie oor jouself gaan nie – maar oor diens aan God. Hy dit vir jou moontlik om te besef dat jou werk nie oor jouself gaan nie, maar oor diens aan ander. Dat jou werk nie oor jou koninkrykie gaan nie, maar oor God se Koninkryk.
Jesus Christus gee aan werk ware betekenis. Hy maak dat ons werk diens aan God is en dat ons in ons werk en besig wees iets van God se skoonheid en orde wys. Dat ons in ons werk wys waarheen God met die wêreld op pad is.
Ja, ons werk is steeds moeilik. Dit vra steeds groot inspanning. Ons misluk dikwels in dit wat ons wil bereik. Maar in Christus het ons werk betekenis. In Hom is ons werk waardevol. Omdat ons deur ons werk getrou en tot die beste van ons vermoëns te doen, God so aanbid. Ons werkplek is nie net die plek waar ons geld maak om te lewe nie. Ons roeping by die werkplek stop nie daarby om ander van Jesus Christus te vertel nie. Dit is ook belangrik. Ons werkplek is in Christus ’n plek van aanbidding. ’n Plek waar ons sy Koningskap en liefde en orde wys deur die manier hoe ons ons werk getrou en met groot ywer doen.
Wanneer ons ons werk vir Hom doen, wanneer Hy ons daarin deur sy Gees lei, gaan ons nog moeg word, gaan ons nog onsself inspan, gaan ons nog teleurgesteld word, maar ons weet die ewige rus wag op ons. Ons weet daar kom ’n tyd wanneer ons werk nie meer pyn en inspanning gaan wees nie.
In Christus het ons werk betekenis en ons het ware rus in Hom. Hy lei ons deur sy Gees. Hy maak dat werk vir ons ’n seën is. Omdat ons daardeur God aanbid en sy Naam grootmaak. Omdat ons kan werk en weet die Here voorsien. Omdat ons daardeur iets van God se grootheid en orde kan wys.
Omdat jou werk in Christus ware betekenis het, omdat jou werk aanbidding van God is, moet jy dit tot die beste van jou vermoë doen. As erediens aan God. As diens aan ander. Daarom wys jou iets van God se liefde in die manier hoe jy werk en ander benader. Daarom gaan werk nie net vir jou oor die wins nie – maar ook oor mense. Daarom gee jy ook jouself vir God by die werk – daarom soek jy ook in jou werk jou lewe buite jouself in Christus.
Wanneer jy weer oorwerk en onderwaardeer voel, onthou: In Jesus Christus het jou werk betekenis. Jy is waardevol vir Hom. Hy gee jou die voorreg om God te verheerlik met jou werk. Hy gee jou die geleentheid om ander te dien met jou werk. Is werk ‘n straf of ‘n seën? Dit is seën uit die hand van die Here!
Gerhard is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Komatipoort
2 Comments
Dankie vir die vrae, Benita. Dit is natuurlik bitter moeilik om sulke komplekse vrae in ‘n kort boodskap te antwoord, maar ek doen my bes om ‘n paar riglyne te gee:
Wat werkholisme aanbetref: Hier is dit baie belangrik om te fokus op ons afhanklikheid van die Here. Dit is bv. waarom Hy die Sabbat vir sy volk in die Ou Testament ingestel het. Hy gee die een dag in die week waarop hulle moet rus – die mens het rus nodig! Deur die een dag af te sonder het die volk gewys dat hulle anders as die ander volke is en dat hulle vertrou dat die Here vir hulle sorg.
As gelowiges lewe ons met dieselfde beginsel: Die Here sorg vir ons. Daarom moet ons rus. Werkholisme kan soms wees omdat ons dink alles hang van ons af en ons moet net harder en meer werk. Natuurlik doen gelowiges hul werk tot die beste van hul vermoë, maar ons doen dit terwyl ons op die Here vertrou.
Soms is werkholisme ‘n ontvlugting van ander verantwoordelikhede. ‘n Man word bv. geroep om sy vrou selfopofferend lief te hê en te dien, soos ons Here Jesus sy kerk lief het. Hierdie selfopofferende liefde behels meer as net, maar sluit nie uit nie, die voorsiening van geld/versorging. Soms skuil mense agter “ek moet brood op die tafel sit”. Werkholisme het ‘n geweldige negatiewe impak op jou huweliksmaat en jou kinders.
Hoe gemaak met mense wat lui is en nie wil werk nie? Dit is belangrik om hul uit die Woord uit te begelei om te sien dat werk nie ‘n straf is nie. Die mens is gemaak om te werk. Adam moes al werk voor die sondeval. Met die sondeval was deel van die straf dat werk moeilik en inspannend is en dat ons nie altyd kry waarvoor ons werk nie.
By die Tessalonisense was daar mense wat nie wou werk nie. In die eerste brief word hulle vermaan. In 1 Tess. 4:10,11 “Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen, en dit vir julle ‘n saak van eer te maak om… en met julle eie hande te werk, soos ons julle opdrag gegee het. En in 1 Tess. 5:14: “En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek.”
Daar was sommige wat nie op die vermaning ag gegee het nie, daarom word hulle baie skerper in 2 Tessalonisense aangespreek. In 2 Tess. 3:10 e.v. staan: “Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien.”
In beide gevalle (werkholisme en nie wil werk nie) moet daar ‘n pad gestap word om te wys wat in die Woord staan. Daar gaan ook ‘n duidelike bekeringsopdrag moet wees.
Ek hoop hierdie paar riglyne help.
Gerrie
Wat gemaak met werkholisme, die impak op gesinne en huwelike, en hoe moet mens dit pastoraal benader? Wat is die impak daarvan op vroue van werkslawe in die huwelik, en in die samelewing en het dit ook ‘n effek op kinders se psige en emosionele toestand (angs en depressie)? Aan die ander kant: Hoe gemaak met mans, vroue of kinders wat lui is en nie wil werk nie?