Die dieptepunt van die probleem
‘n Mens kan vergewe word as jy sou dink dat hierdie woorde in die laaste maand of wat neergepen is:
“…die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God…” (2 Timoteus 3:2-4).
Die Skrif waarsku ons dat dinge inderdaad swaar sal gaan in die laaste dae.
Veral wat politieke korrektheid betref, voel dit of daar om elke hoek en draai ‘n slaggat is wat vermy moet word. Jy kan nie eens meer ‘n grap oor jouself maak, sonder dat iemand anders aanstoot neem nie.
En omdat menseregte die mantra van ons tyd geword het, heers die gedagte van die ‘soewereine eie-ek’, wat self sal bepaal wat goed en reg en aanvaarbaar is.
Nie God se wil nie; maar my eie.
Nie God se waarheid nie, maar universele waarheid waar almal mekaar maar moet aanvaar.
Die gedagte van diskriminasie word geherdefinieër: Waar die samelewing ‘n gebruik aanvaar, ‘n siening koester, ‘n praktyk goedkeur, word dít normatief – en enige beswaar, veral godsdienstig van aard, word met minagting van die hand gewys.
Die vraag is: Hoe gemaak as die Skrifwaarheid wat ons bely, noodwendig met die samelewingsnorm in stryd kom?
Wat doen ek wanneer die belofte van Christus in Mattheus 5:11 in my lewe ‘n realiteit raak?
“Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil…”?
Dit wil veral voorkom of die gesin wêreldwyd onder skoot kom soos die egskeidingskyfer aan die een kant die hoogte in skiet, en die definisie van wat ‘n huwelik is aan die ander kant in elke land herinterpreteer word.
Dit behoort ons egter nie onkant te vang nie – dit is nie om dowe neute dat die Satan sy visier op die gesin en die huwelik gestel het nie.
Vernietig jy die huwelik, karring jy aan die huisgesin – dan het jy ‘n binnebaan na die kerk. Dan kan jy in die gedagtes van mense die dodelike gif wat lewens vernietig toedien, en kan jy op voetsoolvlak die kerk vernietig.
William Hendriksen skryf : “No institution on earth is more sacred than that of the family. None is more basic. As is the moral and religious atmosphere in the family, so will it be in the church, the nation, and society in general…” (2007:248).
[bctt tweet=”Vernietig jy die huwelik, karring jy aan die huisgesin – dan het jy ‘n binnebaan na die kerk.” username=”scriptura_tweet”]
Te sinies? Kom ons toets dit vir ‘n oomblik.
God gebruik (onder die baie ander) twee pragtige beelde om die kerk van Christus aan ons te verduidelik in die Skrif.
Die Bruid en die bruidegom en die huisgesin. Twee beelde wat in ‘n sekere sin aan mekaar verwant is.
Die Bruidegom en die Bruid
In die Bybel ontwikkel die beeld van die Bruid en die Bruidegom regdeur die Ou Testament totdat dit ‘n hoogtepunt bereik in Openbaring met die Bruilofsmaal van die Lam. In Jesaja 54:5 en 6, 62:5, Jeremia 3:20 en Hosea 2:19 word God voorgestel as die Bruidegom met die volk as die bruid. Die beeldspraak word in Hooglied by uitstek voortgesit.
2 Korintiërs 11:2 en Efesiërs 5:22-33 teken die kerk in haar verlowingstyd aan die Bruidegom en moet sy haar troudag bereik sonder vlek of rimpeling – die toonbeeld van reinheid. In Openbaring 19:7 sien ons hoe die bruid haar gereed gemaak het vir die Lam en hoe die Lam haar beklee met ‘rein en blink fyn linne…’
Die beeld word konsekwent gehandhaaf: ‘n tipiese Joodse verlowing, waar die bruid en bruidegom wettig aan mekaar verbind is, maar waar die huwelikseremonie nog nie voltrek is nie.
In hierdie tydperk word die bruidskat bespreek en ander voorbereidings getref tot op die dag wat die troue dan plaasvind. Op hierdie dag sou die bruidegom saam met sy vriende die bruid van haar ouerhuis na sy huis bring en ‘n huweliksfees volg.
Toegepas op die kerk en Christus:
In Christus is die bruid van ewigheid af uitgekies. Deur die hele Ou Testament word die bruilof aangekondig. Die Seun neem ons menslike vlees aan: dit verteenwoordig die verlowing. Die bruidskat – of dan, die prys – dit word op Golgota betaal. Na hierdie interval waarin ons nou verkeer – wat maar ‘n kort rukkie in die oë van God is, keer die Bruidegom terug en vind die Bruilof van die Lam plaas.
Hendriksen (2007:514) skryf: “The Church on earth yearns for this moment, so does the Church in heaven…”
Hoe mooi word hierdie voorbereiding nie vir ons in Openbaring geskets as die Bruidegom sy bruid met mooi, fyn linne beklee nie? Die bruid wag in opgewonde afwagting vir die koms van die Bruidegom – sy is getrou in haar ywer en liefde en afgesonderdheid vir sy koms. Dit is nog meer insiggewend as ‘n mens die kontras merk tussen die prostituut wat Openbaring 17 skets, in bont klere getooi wat haar onreinheid simboliseer. Die prostituut word tot ondergang gebring, maar die Bruid word na Christus gebring om sy vrou te word.
Die huisgesin beeld ons verbintenis aan God en mekaar uit
Die beeld van die huisgesin ontwikkel ook vanuit die Ou Testament waar daar na die “huis van God” verwys word en Israel bedoel word. In Efesiërs 2:19 word die gelowiges die lede van die huisgesin van God genoem; en die intieme, nabye verhouding van die gelowiges onderling sowel as met God word daardeur uitgewys.
Hebreërs 3:6 sê: “Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop…”.
1 Tessalonissense 2 gebruik pragtige gesinsmetafore om God se liefde vir ons te verduidelik.
Omdat die kerk aan Christus behoort en duurgekoop is deur sy bloed, is God ons Vader. Die beeld van die huisgesin roep dan by elkeen in herinnering die innige verhouding wat daar tussen die lede van die huisgesin bestaan, en verkondig aan ons dat net soos ons verhouding en verbintenis in die huis iets is wat ons nie kan kies nie, ons onlosmaaklik deel van God se huisgesin is.
Is dit aktueel?
Dus: die huwelik en die gesin vorm twee kardinale beelde, wat die kernwaarheid van God se verlossing van ons en sy Eienaarskap oor ons, verkondig:
- Wie ontrou in sy diens aan die Here is, sal ontrou in sy huwelik wees, en andersom.
- Wie die werking van ‘n gesin minag, sal nie die geborgenheid van die gemeente ervaar nie, en andersom.
As die wêreld dan ‘n nuwe gesin, ‘n nuwe huwelik of ‘n ander norm aan ons verkondig, behoort ons dit sonder twyfel te verwerp en met die Skrif te beveg.
Ja, dit is ‘n opdraende stryd, wat al hoe moeiliker raak in ons tyd.
[bctt tweet=”As die wêreld dan ‘n nuwe gesin; ‘n nuwe huwelik of ‘n ander norm aan ons verkondig – behoort ons dit sonder twyfel te verwerp en met die Skrif te beveg.” username=”scriptura_tweet”]
Maar te veel verduur ons die propaganda wat subtiel ons huise insluip wanneer sitkoms soos “Modern Family” en basies enige van die ander Hollywood-worsmasjien programme homoseksualiteit nie net as aanvaarbaar nie, maar normaal uitbeeld. “I was born this way”, “Dit gaan nie oor geslag nie, maar liefde” en soortgelyke slagspreuke word in ons kele afgeforseer. Deesdae het elke program ‘n “token gay guy”. Daar is selfs sprake daarvan dat die geliefde Disney-koningin “Elsa” van Frozen, in die volgende uitgawe van die fliek homoseksueel gaan wees, en daar was groot gewag gemaak van die ‘gay’ toneel wat sogenaamd in die “Live Action” weergawe van Beauty and The Beast ingesluit is. 7de Laan het groot opspraak verwek in die laaste jaar met die eerste gay soen wat verfilm is op Afrikaanse TV, en die karakters van “Die Boekklub” op Kyknet was dierbare gesinsgenote in Suid-Afrikaners se sitkamers. En die verskriklike is: dit voel nie meer vir ons vreemd of verkeerd nie.
Selfs die ‘evangelis’ Gretha Wiid het alle geloofwaardigheid wat sy enigsens sou gehad het, verloor deurdat sy na ‘n uitgerekte rusie met die Menseregtekommissie, die Bybelse waarheid oor die huwelik en gesin tragies verloën het.
Aan die ander kant van die spektrum gooi te veel egpare die handoek in, en verbrokkel huwelike wat eintlik nog in hulle kinderskoene is.
Die punt is: as die kerk van vandag nie hierdie waarheid ondubbelsinnig verdedig en moeite doen om die huwelike en gesinne in die kerk met die waarheid te bewapen nie, moet ons nie verbaas wees as die kerk begin leegloop nie.
Ons moet onverskrokke met ons afstandbehere begin stem:
Nee, ek sal nie toegee aan druk om die snert wat vir my opgedis word te kyk nie, en ek sal hand en tand stry om my kinders die gesonde leer van die Christelike huwelik en gesin te bly verkondig.
[bctt tweet=”Ons moet onverskrokke met ons afstandbehere begin stem!” username=”scriptura_tweet”]
Dit spoor ons dan verder aan:
- Werk aan jou huwelik met die bruid of bruidegom wat God jou gegee het.
- Spandeer tyd saam met jou gesin; investeer in die asempies wat jou soms met hulle veeleisende energie frustreer.
Doen dit met die Skrif in die hand, want of jy dit nou wil weet of nie – jou verhouding met die kerk – met die Bruidegom – is integraal deel van jou lewe.
Ja, mag ons deur die genade van God hierdie kritiese waarheid beskerm.
Jan-Louis is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Brits
Be First to Comment