powered by Advanced iFrame. Get the Pro version on CodeCanyon.
In hierdie episode bespreek ons die “L” van die “TULIP-akroniem”. Dit handel oor Beperkte Versoening of “Limited Atonement”. Die versoening wat Christus bewerk het is slegs bestem vir die uitverkorenes.
1: 10 Wat is “beperkte versoening” (Limited atonement)
15:00 Dordtse Leëreels 3/4 Paragraaf 13 – Dit is onbegryplik
20:00 Verwarring wat die woord “beperking” kan veroorsaak.
22:00 Wat leer ons hieroor in die Skrif?
Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.
6 Comments
Dit lyk vir my of God ‘n baie hoë waarde aan mense heg, veral as jy Psalm 8 lees. Hoekom sal God mense dan “predestine” na ‘n uiteindelike hel as Hy hulle dan met aansien en heerlikheid gekroon het, en hulle net effens minder as ‘n hemelse wese gemaak het? Stel God rêrig mense deur hierdie verheerliking in dié Psalm net op vir mislukking?
Baie dankie baie intresante gesprek, ek is nie n Calvinis Of Arminiaan of Charismaat nie, Ek is net lief vir Jesus en Sy Woord.
Kan julle dalk die volgende net verklaar. Want n mens moet mos Skrif met Skrif verklaar.
“Want so lief het God die Wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
(Joh. 3:16).
“Want dit is goed an aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Tim. 2:3,4).
“… Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Pet. 3:9)
“Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes. 53:6).
” … die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal,” (1 Tim. 2:5,6).
” … sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.” (Heb. 2:9).
“En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van die hele wêreld.” (1 Joh. 2:2).
Dan ook net na aanleiding van julle gesprek
” … kies dan vir julle vandag wie julle wil dien” (Josua 24:15).
Luk_13:34 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.
Mar 6:11 En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot ‘n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.
Hallo Coenraad,
Jy is heeltemaal reg, dat ons die Skrif met die Skrif moet verklaar. Jy is dalk meer Gereformeerd as wat jy dink :p
Om Skrif-met-Skrif te verklaar, beteken o.a. dat ons tekste binne konteks verstaan. Ek probeer graag die tekste wat jy noem verklaar binne konteks, soos jy gevra het. Ek wil jou ook wys, dat jou tekste juis ‘n bewys is van God se beperkte versoening en dat die nie die teendeel bewys nie. (Ek aanvaar jy wou met hierdie verse die teendeel bewys?):
1. Jou eerste teks – Joh 3:16
Hierdie teksvers volg nadat Jesus vir Nikodemus leer, dat ‘n mens eers wedergebore moet word, om in God se Koninkryk in te kom. In geheel gesien, leer Johannes 3 dus, dat die wedergeboorte die geloof voorafgaan.
Ons weet uit Joh 3:6 en bv. 1 Pet 1:23 dat die wedergeboorte nie uit die mens is nie, maar ‘n geskenk van God self. God besluit wie Hy wil wederbaar en wanneer. Iemand wat wel deur die weldade van God wederbaar is, sal tot geloof kom en daarom die ewige lewe hê.
God se versoening is dus beperk tot sy uitverkorenes wat deur Sy Gees wederbaar is, om te glo.
2. Jou tweede teks – 1 Tim 2:3,4
Hierdie teks volg na Paulus se oproep om te bid vir alle mense, dit sluit in: “vir konings en almal wat hooggeplaas is” (v. 2). Dit volg logies uit die direkte konteks, dat hy daarom met “alle mense” hier in besonder verwys na die mense in alle sosiale klasse en dit sluit die hooggeplaastes in.
Net voor hierdie oproep, sê Paulus in 1 Tim 1:13,14 dat God aan hom genade betoon het en hom wat “vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger…” was, in Christus gered het. Paulus erken dus, dat sy bekering nie ‘n daad uit homself was nie, maar dat dit ‘n werk van God alleen was.
Hy sê ook in 1 Tim 1:8, dat die wet gegee is vir die goddeloses. Hy tref dus onderskeid tussen die goddelose en homself, wat deur God se genade verlos is. God betoon dus ‘n beperkte versoening aan hom wat Paulus is, maar nie aan almal nie, want daar is, volgens sy skrywe, steeds goddeloses wat steeds onder die wet is.
3. Jou derde teks – 2 Pet 3:9
Die feit dat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie, is genadetyd. Bekeringstyd. Tyd vir mense om tot God te keer, sodat hulle ewig mag lewe. God wil inderdaad bekering hê. Hierdie vers maak egter nie die stelling dát álle mense tot bekering gaan kom nie. Die vers beklemtoon juis God se genadige lankmoedigheid, dat Hy steeds genadetyd gee, selfs al gaan almal nie tot bekering kom nie.
Die boek Openbaring toon dit ook oortuigend aan, dat God geleentheid vir bekering oor die eeue gegee het, maar hulle wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie, sal in die ewige vuurpoel gewerp word. In konteks gesien, is God se beperkte verkiesing ook hier duidelik tot hulle wie se name Hy in die boek van die Lewe opgeskryf het.
4. Jou vierde vers – Jes. 53:6
Enkele verse later, in v. 11,12 staan daar, dat die kneg “baie” regverdig maak en hulle skuld dra en die sonde van “baie” gedra het. Met “ons almal” in v.6 spreek hy dus die verbondsvolk aan wat die profesie lees en hy maak nie ‘n universele stelling, dat almal gered is nie. Inteendeel, hy beperk die Kneg se versoening, wanneer Hy sê dat nie almal regverdig gemaak is nie, maar “baie” in v. 11,12.
Vergelyk in die opsig ook Jesus se eie woorde in die Bergrede van die smal en breë weg, waar Hy self sê: “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” (Matt 7:14).
5. Jou vyfde teks – 1 Tim 2:5,6
Sien my antwoord by nr. 2.
6. Jou sesde teks – Heb 2:9
Die Hebreërbrief maak dit baie duidelik, dat Christus se versoening nie vir almal is nie, maar beperk word tot die wat Hy tot heerlikheid bring (v. 10), sy “broers” (v. 11), die gemeente/huis/vergadering van eersgeborenes (v. 12, Heb. 12:18-24), die saad/nageslag van Abraham (dit is die gelowiges, v.16).
Dit is verder duidelik dat almal nie gered is nie, want in die vier waarskuwings van Hebreërs (Hoofstuk 2,6,10 en 12), wys hy duidelik uit dat sommiges van Christus afvallig raak en daardeur bewys dat hulle nooit uitverkore en wedergebore is nie.
7. Jou sewende teks – 1 Joh. 2:2
Wat beteken “wêreld” hier, binne konteks? Johannes toon aan, dat die Evangelie nie net vir hom en sy volgelinge is nie, maar vir die hele wêreld. In ander woorde, die Blye Boodskap is nie in die opsig beperk tot ras, geslag, ouderdom, status ens nie, maar is vir almal regoor die wêreld.
Ietwat verder af in die hoofstuk, v. 16 tref Johannes onderskeid tussen die wat “uit die wêreld” is en die wat “uit die Vader” is. Hier sê hy, die wat leef soos die wêreld en vir die wêreld (dus morele standaarde ens vd wêreld) is nie uit die Vader nie. Ook Johannes tref dus ‘n beperking op wie die versoendes in Christus is en wie nie.
Coenraad, liefde vir die Here se Woord, beteken liefde vir Sy héle Woord.
Ek hoop my antwoord help jou en is bevredigend.
Mooi aand verder
Goeiemiddag, Beperkte versoening is inderdaad ‘n konsep wat moelik verstaan word vanuit ‘n arminiaanse oortuiging om nie eers te praat van charismatiese oortuigings nie. Eintlik glo almal aan ‘n beperkte versoening sonder dat hulle besef. Omdat ons weet dat daar wel mense in die verderf is, maak dit versoening beperk in sy effek of beperk in sy voltooing. Die hele mensdom eindig nie in die hemel nie.
‘n Allegorie wat vir my baie sin maak lui soos volg:
As Christus vir die hele mensdom versoening bewerk het en dit oorgelaat het aan elke individu om self te besluit of hy van die genadegawe wil gebruik maak, maak dit die wiskundige moontlikheid dat niemand in die hemel sal wees nie, waar. Dit is wiskundig dus moontlik dat elke individu van die hele mensdom sou kon besluit om nie die genadegawe aan te neem nie. Netso sou dit ook wiskundig moontlik kon wees dat niemand in die verderf is nie, want wiskundig kon almal uit die mensdom besluit het om wel die genadegawe aan te neem. Afgesien daarvan dat die Skrif duidelik beperkte versoening verkondig, is bogenoemde redenasie verder bewys dat die keuse van saligheid NIE by die mens kan rus nie.
Verder, as Christus versoening vir die hele mensdom bewerkstellig het m.a.w. onbeperkte versoening, sou dit beteken dat diegene wat wel in die verderf is, dus twee keer gestraf word vir sy sonde. Eerste betaling van sonde rekening is deur Christus vereffen met sogenaamde onbeperkte versoening en dan ‘n tweede vereffening van dieselfde sondelas deur die individu wat in die verderf eindig.
Ons God is in Sy wese Heilig. 100% regverdig. Dit is onmoontlik dat God die sonde twee keer sal straf. Daarom is versoening beperk vanweë die absolute Heiligheid van God.
Hoop dit kan dalk vir iemand die kwessie meer greep vir verstaan bied.
Groete in Christus, Eric.
Baie dankie, @neelsmalan! Wat ‘n groot voorreg is dit nie om die belydenisskrifte te kan hê nie!
Dit is vir my lekker om drie jonger manne so oor die Dordtse Leerreels te hoor praat. Sterkte en seen!