Wat is Christelike hoop regtig?
Die manier waarop enige mens leef, jou karakter en gedrag, word ten diepste bepaal deur wat jy verwag jou finale toekoms gaan wees. Nie-Christene se “hoop” is vaag en onseker.
In die Bybel beteken hoop vir gelowiges ‘n sekere verwagting van God se besliste groot toekoms.
As jy nou al ’n kykie kry op die asemrowende heerlikheid van Jesus se wederkoms, het dit ‘n impak op jou HELE LEWE! Die Heilige Gees is die eerste paaiement van God se groot toekoms soos ons ook lees in Romeine 8:23 … “ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.“
In Handelinge 2 lees ons hoe die onderlinge liefde en die gewilligheid van die gelowiges om mekaar en ander met hulle konkrete dade van opofferende liefde te dien, so ʼn impak op die hele gemeenskap gehad het, dat daar in vers 47 staan: “die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg…”
Getuienis van die vroeg Christelike kerk
Op ‘n keer het ‘n Romeinse goewerneur van een van die provinsies aan die keiser in Rome geskryf oor die redes waarom die Christelike kerk so vinnig uitbrei. Hy skryf: “Hulle begrawe nie net hulle eie mense nie, maar ook dié van die ongelowiges. As hulle iemand sien wat nie kos het nie, sal hulle self sonder kos bly, om die hongeres te kan voed.”
Rodney Stark, ‘n navorser en outoriteit van kerkgeskiedenis en Sosiologie, het enkele jare gelede ’n boek gepubliseer getiteld: The Rise of Christianity. Daarin het hy verstommende historiese feite, maar ook sosiologiese perspektief na vore gebring oor die vraag: Wat het gemaak dat die Christelike kerk die eerste drie eeue na Christus so vinnig gegroei het? Hy het aangetoon dat die eerste Christene veral in hierdie 3 opsigte van die heidene verskil het:
- Toe die groot epidemies van hoogs aansteeklike siektes die groot stede tref, het die heidene weggevlug en hulle siek families agtergelaat om te sterf. Maar die Christene het agtergebly en volgehou om siekes te verpleeg, en baie Christene het in die proses self gesterf.
- Tweedens het Christene nooit protes optogte en guerilla- oorloë tydens hul vervolging begin nie, maar liewer vir hulle vervolgers gebid, soos ons in die Bybel lees van Jesus, en later van Stefanus.
- Derdens het hulle te midde van groot etniese konflikte, wat ontstaan het nadat Rome so baie lande verower het en die stede ‘n mengelmoes van nasies geword het, daarin geslaag om vrede te bring. Die Christelike kerk was die eerste organisasie in die geskiedenis wat rassegrense en volksgrense kon oorsteek en vrede bring.
As jy sou vra: Waarom het hulle soveel deernis gehad vir siekes? Waarom was hulle so vergewensgesind? Waarom kon hulle daarin slaag om etnies so inklusief te wees?
Dan is daar eintlik net een antwoord: Hulle gedrag en optrede is bepaal deur wat hulle verwag het van hulle uiteindelike en finale toekoms. Christene was mense met ware hoop vir die toekoms.
Geesvervulde hoop se impak op die wêreld
Die wêreldbekende sendingwetenskaplike, Leslie Newbigin, moes eenkeer verduidelik wat is ‘n Christen nou eintlik. Hy sê toe dat hy dit altyd op die sendingveld in Sri Lanka so verduidelik het: Wanneer mense daar in die vroeë more op die smal bergpaadjies in ‘n oostelike rigting werk toe gestap het, was daar ‘n helderrooi skynsel wat van hulle gesigte uitgestraal het. Mense wat na hulle gekyk het, het verbaas gevra: “Wat het hulle wat hulle gesigte so laat blink?” Later het hulle dan agtergekom dit is die son wat so op hulle gesigte skyn, en dit laat weerkaats na die wêreld toe. ‘n Ware Christen, het Newbigin gesê, is iemand wat God se nuwe daeraad sien aanbreek, wat die son van geregtigheid tegemoet stap, en die liefde en geregtigheid van God na die wêreld laat skyn.
Gelowiges wat leef met ware Christelike hoop se lewensstyl moet nou al ‘n voorsmaak wees van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Omdat daar met die wederkoms van Christus geen vervloeking, geen nag, geen lyding, smart en droefheid meer sal wees nie, begin geesvervulde Christene om iets daarvan uit te straal.
Wanneer dit gebeur, sal die profesie van Sagaria 8:23 vervul word: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”
Navorsing professor, Teologiese fakulteit Noordwes Universiteit: 2012-2022. Prinsipaal, Mukhanyo Teologiese Kollege: 1993-2012. Predikant, Potchefstroom-Noord: 1989-1993. Sendeling, Sharpeville: 1984-1989. Predikant, Vereeniging: 1976-1984. Predikant, Odendaalsrus: 1973-1976.