“Vir alles is daar ‘n vasgestelde tyd; daar is ‘n tyd vir elke saak onder die hemel: ‘n tyd om geboorte te gee en ‘n tyd om te sterf; ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te trek wat geplant is; ‘n tyd om ‘n lewe te neem en ‘n tyd om te genees; ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou…” (Pred. 3:1 e.v.)
“Moenie sê, “Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie?” nie; want dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vrae stel nie.” (Pred. 7:10)
Die Here stel sekere seisoene vas op aarde: winter, lente, somer, herfs.
Sommige van ons hou meer van winter, ander hou meer an somer. Ons sal dan ook so met mekaar praat en sê: “ek wens dit is weer warmer!” of “dit is nou so warm, ek kan nie wag vir die winter nie!”
So ervaar ons die verskillende seisoene op aarde en ons wil gewoonlik elkeen voortuigryp na ‘n volgende seisoen, of terugverlang na ‘n seisoen wat was.
Die Prediker leer ons, dat die Here nie net seisoene vir die aarde vasstel nie. Hy stel ook sekere tye, geleenthede en gebeurtenisse (soos seisoene) vas in ons eie lewens.
In ons lewe is seisoene van gesondheid en siekte; voorspoed en teëspoed; liefde en woede; verlange en kameraadskap. Prediker praat nie noodwendig enige van hierdie dinge goed of sleg nie, hy spel eenvoudig die realiteit van ons lewe op aarde vir ons uit.
Die Here gee elkeen van hierdie seisoene op Sy tyd om Sy plan in en deur ons te verwesenlik.
Ons moet saam met die Prediker leer, om elke seisoen in ons lewe tegemoet te gaan en dit te aanvaar uit God se hand.
Ons moet leer om nie vooruit te gryp na ‘n tyd wat voorlê of terug wil trek na ‘n seisoen in ons verlede nie. Dit is nie wys om te verlang en te vra na die “goeie ou dae nie”.
Ons mag natuurlik ons kosbare herinneringe koester, maar die Here wil hê dat ons nie in die verlede moet leef nie, maar in die hede, met dankbaarheid.
Vir elkeen wat vandag hier lees, is daar ‘n tyd om af te breek en op te bou; ‘n tyd om te huil en te lag; ‘n tyd om te rou en ‘n tyd om te dans.
Mag die Here jou leer om dankbaar te leef in die seisoen waarin jy nou is.