Die doop in die lig van die Skrif
Ek kry nogal heelwat vrae oor die doop, selfs vanuit ons eie geledere. Vir baie van ons mag dit dalk standaard teologie wees, maar weens die groeiende teologiese diversiteit van ons tyd en toeganklikheid van inligting op die internet, begin sommiges wonder. Is verbondsdoop Bybels? Het ons nie dalk iewers die punt gemis nie? Veral jongmense wat blootgestel word aan ander kerke het baie vrae.
Daar is twee hoof sienings oor die doop alhoewel met verskeie variasies – belydenisdoop of verbondsdoop. Calvinistiese Baptiste (van hier af Baptiste) en Gereformeerdes is redelik eens oor die situasie in die Ou Testament. Gelowiges en hul kinders is besny, buitestanders moes eers ‘n geloofsbelydenis aflê in die God van Abraham, Isak en Jakob, en besny word voordat hulle deel van die verbondsvolk kon wees. Die vraag is nou hoe lyk dit in die Nuwe Testament? Dit is hier waar Baptiste van Gereformeerdes begin verskil. Die groot verskil lê in die verstaan van verbondsteologie en die kontinuïteit van die Abraham-verbond. Met ander woorde, hoe nuut is die nuwe verbond? Is dit iets heeltemal nuut of is dit ‘n voortsetting van die Abraham-verbond? Staan die nuwe verbond op dieselfde verbondsbeginsels, of op sy eie?
Baptiste
Baptiste bely saam met ons dat die skeppingsverbond ingestel is met die skepping van die mens, en dat die genadeverbond na die sondeval aangekondig is in Genesis 3:15. Maar Baptiste glo die verbonde in die Ou Testament bevat nie die inhoud van Christus nie, slegs skadubeelde daarvan. Die realiteit waarvan die beelde spreek word eers in werklikheid in die Nuwe Testament ingestel deur die nuwe verbond onder Christus. Met ander woorde, die genadeverbond is slegs ‘n stippellyn deur die Ou Testament, en word eers ‘n werklikheid in die Nuwe Testament (figuur 1). Daarom sien hulle ‘n groter diskontinuïteit tussen die Ou en Nuwe Testament. Hulle sien ook die nuwe verbond as ‘n nuwe begin met nuwe verbondsbeginsels. Daarom glo hulle die dooptekste in die Nuwe Testament moet op eie meriete geïnterpreteer word, en nie in konteks van die Abraham-verbond nie.
Figuur 1
Gereformeerdes
Gereformeerdes sien egter die Abraham-verbond as ‘n instelling van die genadeverbond. Voorts sien ons die nuwe verbond as ‘n volledige openbaring van die Abraham-verbond. Al die verbonde wat tussenin gemaak is, is ‘n uitbreiding van die genadeverbond met Christus as die inhoud. Vanaf Genesis 3:15 tot aan die einde van die Bybel is daar een soliede verbondslyn (figuur 2). Met ander woorde, gelowiges en hul kinders staan onder een verbondslyn vanaf Abraham tot in die Nuwe Testament. Die nuwe verbond is nie ‘n totale nuwe begin nie, maar die realisering van die Abraham-verbond deur Christus as perfekte Middelaar. Daarom glo ons die dooptekste in die Nuwe Testament moet in konteks van die Abraham-verbond geïnterpreteer word.
Figuur 2
Volgens Gereformeerdes word die verbond in die Ou Testament geïdentifiseer deur die besnydenis. In die verbond is daar gelowiges en ongelowiges – uitverkorenes en nie-verkorenes – nie almal van Israel is Israel nie. Hierteenoor is die teken van die nuwe verbond die doop en, weereens is nie almal wat gedoop word ware Israel nie. Net soos die Abraham-verbond, is die nuwe verbond ‘n mengsel van gelowiges en ongelowiges. Gereformeerdes se verstaan van verbondsteologie is dus gefokus op kontinuïteit. Die nuwe verbond is soos die oue – gelowiges en ongelowiges is gemeng in die verbondsgemeenskap. Dus is dieselfde verbondsbeginsels van toepassing op beide verbonde.
Aard van die verbond
Baptiste sien die Abraham-verbond net soos Gereformeerdes, maar verskil met ons aangaande die aard van die nuwe verbond. Hulle glo die nuwe verbond word nie geïdentifiseer deur die doop nie, maar deur die besnydenis van hart. Met ander woorde, die doop vervang nie die besnydenis nie. Baptiste sien die nuwe verbond as die totstandkoming van die genadeverbond, eerder as ‘n voortsetting van die genadeverbond deur die Abraham-verbond. Hulle beweer, net soos die offerlam deur Jesus vervul is, so is die besnydenis vervul deur die besnydenis van hart. Hieruit kan mens sien: die groot verskil is dat Baptiste glo die verbondsgemeenskap in die Nuwe Testament bestaan slegs uit wedergeborenes. Met ander woorde daar is geen kaf tussen die koring nie. Die nuwe verbond is dus eerder ‘n nuwe begin as ‘n voortsetting van die oue.
Hoe beïnvloed dit nou die verskillende sienings oor die doop?
Vir Gereformeerdes is die verbond nie iets wat gelowiges alleen deelagtig word nie, maar ook hul kinders, net soos in die Abraham-verbond. Verbond lidmaatskap beteken egter nie outomatiese redding nie. Ons doop ons kinder,s omdat hulle afgesonder is vir God. Ons maak hulle groot in die Woord van God, ons bid vir hulle, en deur God se genade vertrou ons dat hulle deur geloof in die verbond bly as hulle groter is. Omdat Baptiste glo dat die nuwe verbond slegs gereserveer is vir wedergeborenes, mag slegs die wat belydenis aflê gedoop word. Hulle sal natuurlik erken dat dit nie altyd net gelowiges is wat gedoop word nie, omdat mense vals belydenisse kan maak. Maar hulle sal sê dit is iets wat sover moontlik slegs aan gelowiges bedien moet word.
Verbond in die Ou Testament
Sover het ons die verskillende sienings vergelyk. Ons moet egter nou kyk wat die Bybel sê. Is dit waar dat die genadeverbond eers in die Nuwe Testament ingestel word? Is daar grootskaalse diskontinuïteit tussen die twee verbonde? Is daar ‘n verskil in die verbondsbeginsels tussen die twee verbonde? Een van die verse wat Baptiste gebruik is Jeremia 31:34 – “hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle.” Hierdeur beweer hulle daar is grootskaalse diskontinuïteit tussen die twee verbonde. Hulle beskou die nuwe verbond as die totstandkoming van die genadeverbond waar slegs wedergeborenes in die verbond mag wees. Maar as jy die konteks van die teks bestudeer spreek dit eerder van kontinuïteit. Daar is in wese nie ‘n verskil tussen die twee verbonde nie, maar wel in vorm – besnydenis versus doop.
Wanneer Jeremia die nuwe verbond beskryf en hoe dit anders sal wees, sê hy, “Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees” (v. 33). Soos die Abraham-verbond, is dit een van die kern eienskappe van die nuwe verbond. Dit is dieselfde as wat God aan Abraham gesê het in Genesis 17:7. Dus, volgens Jeremia, sal die nuwe verbond gebou wees op die beloftes van die Abraham-verbond, wat dui op kontinuïteit tussen die twee verbonde. Verder wys die onmiddellike konteks dat Jeremia eerder die Moses-verbond in gedagte gehad het. Die nuwe verbond sal beter wees as die Moses-verbond op drie maniere: 1) die wet sal op hul hart geskryf word, 2) almal sal God ken, en 3) God sal hul sondes nie meer onthou nie.
Dit beteken nie dat almal wedergebore sal wees nie. Die wet sal net so van toepassing wees, maar wel geïnternaliseer word. Almal sal God ken in die sin dat die modus en universaliteit van die godskennis verander. Godskennis was beperk tot priesters en profete, maar nou kan klein en groot God ken deur Sy woord met Jesus as ons Priester, Profeet en Koning. Anders as in die Ou Testament, sal God sy volk se sondes nie meer onthou nie, omdat Jesus se eenmalige offer beter is as die van diere. Die verskil tussen die verbonde is dus een van vorm, nie van inhoud nie. Die vorm wat die inhoud (Christus) aanneem is wel by verre beter. Die nuwe verbond is dus in wese ‘n kontinuïteit van al die verbonde wat dit voorafgegaan het. Daarom kan ons ook verwag om wesenlike kontinuïteit te vind tussen die uiterlike tekens en die beginsels waardeur dit toegepas word.
Verbond in die Nuwe Testament
Die Nuwe Testament lewer ook bewys van die kontinuïteit. Jesus het die kinders van gelowiges binne die koninkryk gesien en nie as buitestanders nie (Matt. 19:13-15). Die taal wat Jesus gebruik het teenoor die kinders van gelowiges was verbondstaal. Hy reken hulle in as Hy van die koninkryk praat. Petrus het dieselfde gedoen op Pinksterdag – “die belofte kom julle toe en julle kinders” (Hand. 2:39). Dit is dieselfde verbondstaal as Genesis 17. Hiermee wys Petrus vir ons dat die verbondsbeginsels in die Nuwe Testament nie verander het nie, net die teken. Dit word ook bevestig in Kolossense 2 waar Paulus die besnydenis en die doop onlosmaaklik aan mekaar verbind (vers 11,12). Besnydenis, as verbondsteken, het oorgegaan in die Nuwe Testament as die doop.
Paulus wys ons ook op die kontinuïteit tussen die verbonde deur die Nuwe Testamentiese gesin (1 Kor. 7:14). Ter wille van die verbondseenheid in die gesin, word die ongelowige lewensmaat ingereken anders sou die kinders buite die verbond gestaan het. Maar nou is hulle “geheilig” (afgesonder vir verbond) deur die geloof van die ouers. Die huwelik is soos ‘n sambreel met die kinders van gelowiges onder die verbond-sambreel. Selfs die gesinsdope in Handelinge (10:34-43; 16:14, 32) getuig van dieselfde verbondsbeginsels as in die Ou Testament – “jy en jou gesin.” Alhoewel die gesinsdope nie uitdruklik sê dat daar babas teenwoordig (of nie teenwoordig) was nie, bevestig dit die patroon tussen die Ou en Nuwe Testament. Gesinne word ingesluit in die verbondsgemeenskap. Die verbondsbeginsels van die Ou Testament het dus nie verander nie. Daar is ‘n reguit lyn tussen die testamente wat die kinders van gelowiges aanbetref.
Die waarskuwingstekste in Hebreërs en Petrus wys verder dat die verbondsgemeenskap in die Nuwe Testament gelowiges en ongelowiges insluit. Beide Hebreërs 10:29 en 2 Petrus 2:1 praat van die wat Christus verloën en die bloed van die verbond vertrap wat hul geheilig het. Dit herinner aan 1 Korintiërs 7:14 – “maar nou is hulle heilig.” Die tekste kan slegs sin maak vir mense wat in die verbond gebore is en dan deur ongeloof uittree. Handelinge 2:39 bevestig ook dat gelowiges en hul kinders, soos die Abraham-verbond, in die verbondsgemeenskap is. Baptiste sien die vers anders deurdat hulle die klem op die laaste gedeelte van die teks plaas – “die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Daardeur beweer hulle dat die nuwe verbond slegs uit wedergeborenes bestaan. Die sinskonstruksie in die Grieks maak dit egter duidelik dat hier van twee groepe gepraat word – gelowiges en hul kinders aan wie die beloftes behoort en die heidene wat nader getrek sal word. Die prentjie van die nuwe verbond stem dus ooreen met dit van die Abraham-verbond.
Alles in ag geneem wat ons tot sover gesien het, beteken dit ons moet die dooptekste in die Nuwe Testament in konteks van die Abraham-verbond interpreteer. Byvoorbeeld, Romeine 6:4 en Kolossense 2:12 praat baie direk van mense wat gedoop word, omdat hulle deur geloof deel in die werk van Christus. Baptiste sal vra hoe dit dan van toepassing is op babas wat te klein is om ‘n belydenis van geloof te maak. Mens moet egter die tekste benader met 1 Korintiërs 7:14 en Handelinge 2:38 in jou agterkop, asook met die beginsel dat die Nuwe Verbond ‘n voortsetting is van die Abraham-verbond. Mense is op dieselfde manier gered in die Ou Testament en desnieteenstaande is kinders besny. Dit beteken, as die Bybel praat van gelowiges wat gedoop word, neem dit in ag dat die geloof van die ouers aan die kinders toegereken word. Op die manier word die vereiste van geloof in die verse vervul al is dit ‘n baba wat gedoop word.
Die Nuwe Testament is dus nie stil oor die kinders van gelowiges nie. Inteendeel, dit is soos ‘n luidspreker daaroor, en dit bevestig en versterk die Ou Testamentiese boodskap. Kinders van gelowiges word ingereken en moet die verbondsteken van die Nuwe Testament ontvang. Die kruis staan in die middel van die verbondslyn tussen die twee testamente. Die besnydenis wys na die kruis en die doop wys terug. Die besnydenis was ‘n simbool van Jesus wat afgesny sou word en deur Sy bloed vergifnis sou bring. Die water is ‘n simbool van die afwassing van sonde en die nuwe lewe wat Jesus skenk. Beide is ‘n getuienis van die evangelie – ‘n verbondsteken aan God se volk. Gelowiges en hul kinders word gemerk as God se verbondsvolk, en dra ook die seël van God se verbondsbeloftes as getuienis van Sy genadeboodskap aan hulle.
Alle eer aan ons getroue hemelse Vader en Verbondsgod!
Jaco de Beer is ‘n tentmaker-predikant van die Vrye Gereformeerde Kerk (VGK) in Suid Afrika. Hy bedien tans in VGK Wesbank op die Kaapse Vlakte.