Site icon Scriptura

Christelike Pligte

Haustafel” oftewel Christelike Pligte, soos dit in sy Kleiner Kategismus voorkom.

‘n Verskeidenheid vermanings uit die Heilige Skrif vir verskillende beroepe, ampte en pligte in kerk, staat en familie, om in die huis opgehang en deur almal onderhou te word.

Vir Opsieners, Herders en Leraars:

‘n Opsiener moet onberispelik wees: ‘n man met net een vrou, beheersd, verstandig, goed gemanierd, gasvry, en in staat om onderrig te gee. Hy moet nie ‘n dronkaard of veglustig wees nie, maar inskiklik, vredeliewend, en nie geldgierig nie. Hy moet met volkome waardigheid sy eie huishouding goed bestuur en sy kinders onderdanig hou. Hy moet nie ‘n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie verwaand word, en in dieselfde oordeel as die Duiwel beland nie. (1 Tim. 3:2-4, 6) Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys. (Tit. 1:9)

Wat hoorders hul herders verskuldig is:

Eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. (Luk. 10:7) So het die Here ook bepaal dat hulle wat die evangelie verkondig, uit die evangelie moet leef. (1 Kor. 9:14) Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het. Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. (Gal.6:6-7) Laat die ouderlinge wat goed leiding gee, dubbele eer ontvang, veral diegene wat hard werk aan woordverkondiging en onderrig. Want die Skrif sê, “Jy mag ‘n bees wat graan trap, nie muilband nie,” en “’n Arbeider is sy loon werd.” (1 Tim 5:17-18)

Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. (1 Thess. 5:12-13)

Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers, want hulle waak oor julle siele, as diegene wat rekenskap sal moet gee – sodat hulle dit met vreugde kan doen, en nie al sugtend nie, want dit sal vir julle nie goed wees nie. (Heb. 13:17)

Vir die burgerlike owerheid 

Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by slegte optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerheid leef? Doen dan die goeie, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is ‘n dienaar van God, tot jou beswil. Maar as jy die kwade doen, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers ‘n dienaar van God, aangestel om die kwaaddoener te straf. (Rom. 13:1-4)

Vir Onderdane                      

“Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” (Matt. 22:21) Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir die straf nie, maar ook ter wille van jou gewete.

Daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting aan wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom. (Rom. 13:5-7)

Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser. (1 Tim. 2:1-3)

Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en bereid tot elke goeie werk. (Tit. 3:1)

Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. (1 Pet. 2:13-14)

Vir Mans                                

Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie. (1 Pet. 3:7) Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie. (Kol. 3:19

Vir Vroue                               

Vroue, wees onderdanig aan julle mans, soos aan die Here. (Ef. 5:22) So het ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself immers destyds versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees – soos Sara aan Abraham gehoorsaam was, toe sy hom as “heer” aangespreek het. Julle het haar dogters geword, as julle doen wat goed is, en julle nie deur enige dreigement laat afskrik nie. (1 Pet. 3:5, 6)

Vir Ouers                                

En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here. (Ef. 6:4)

Vir Kinders                             

Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort. “Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met ‘n belofte, “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy ‘n lang lewe op aarde sal hê.” (Ef. 6:1-3)

Vir Knegte                              

Slawe, wees met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam, met opregte harte, soos aan Christus – nie met lippediens om mense se guns te wen nie, maar as slawe van Christus wat die wil van God van harte doen, terwyl julle met blymoedigheid julle diens verrig, soos vir die Here, en nie vir mense nie. Want julle weet dat elkeen, indien hy iets goeds doen, dit van die Here as loon sal terug ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman. (Ef. 6:5-8)

Vir Meesters                           

En julle, eienaars, tree net so op teenoor die slawe, en staak julle dreigemente, omdat julle weet dat julle en hulle Here in die hemel is, en dat Hy niemand volgens die uiterlike beoordeel nie. (Ef. 6:9)

Vir die Jeug                            

Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges  gee Hy genade.” Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, (1 Pet. 5:5-6)

Vir Weduwees                       

Maar sy wat werklik ‘n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood. (1 Tim. 5:5-6)

Vir die Gemeenskap               

Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Rom. 13:9) Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word. (1 Tim. 2:1)

Verwysings:
Haustafel is geskryf deur Martin Luther, en vertaal deur Nikolaas Pienaar.

Bronne:
Verkryg  en vertaal vanaf: https://www.lutheranlibrary.org/pdf/583-jacobs-luthers-small-catechism.pdf#page49 ,
En vergelyk met: https://elfk.de/wp-content/uploads/2019/12/Luthers-Kleiner-Katechismus-1.pdf
Bybel aanhalings kom almal uit die 2020 vertaling.

Exit mobile version