Waar die woord van God nie gepredik word nie, neem mense verskillende wanopvattings as waarheid aan, en leef steeds in vrees vir die dood. “Ware troos verg waarheid”, sê Nikolaas Pienaar. Verskuif ons ons vertroue na geliefdes wat afgesterf het, omdat ons wanopvattings het oor waar hulle siele heengaan na hulle afsterwe? Treur ons soms soos mense wat nie hoop het nie, omdat ons nie bybelse insig het oor waar die ontslapenes hulself bevind nie? Is die dood die einde van jou lewe, of is daar lewe na die dood?
00:00 Deel 2 – Wanopvattings oor die dood
02:00 Verskillende wanopvattings
06:26 Is mense (of hul gees) nog by jou na hul afsterwe?
11:00 Bestaan die hemel en die hel werklik, of is dit virtuele wêrelde?
14:22 Die wegrapingsteorie en Openbaring
17:14 Is ons in die greep van vrees vir die dood?
18:00 Hoekom bestaan hierdie wanopvattings?
22:34 Wat is die antwoord op miskonsepsies?
29:35 Hoe troos ons mekaar dan prakties?
Skrifverwysings:
1 Tess 4:13, Pred 3:11, Hebreërs 2, Nederlandse Geloofsbelydenis – Artikel 37, 1 Kor 15:53-58. opgeslurp en uitgespoeg as oorwinning?, Kol 3:1, 1 Tess 4:18.
Aanbieders:
Gerhard van Rhyn, Marnix Boersema, Jaco de Beer, Nikolaas Pienaar
Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.
One Comment
Dankie vir die werk van berading wat julle op hierdie onderwerp doen, ek het bewustheid en respek dat dit sensitief van aard is.
In terme van die saak van die dood in die algemeen, wil ek graag die volgende noem. Die mensdom, in die lig van sy skeppende werklikheid en ook wat God oorspronklik vir Adam en Eva bedoel het, het die menslike psige ‘n diep inherente waaksaamheid teen die dood. Vanaf na die sondeval weet elke mens onomwonde in sy siel, ongeag aanvaarding of onderdrukking van hierdie waarheid, dat die dood in sy totaliteit ten diepste ‘n onvermydelike, indringende, konfronterende en onnatuurlik werklikheid is. Dis my dan opvallend hoe hierdie feit, van elke persoon se komende dood, verskillende psigiese aksies meebring of inneem.
In die wêreld, waar ons as Christene vreemdelinge is, word die dood en sy psigiese angs deur verskeie doelbewuste perspektiewe verander. Byvoorbeeld, deur die dood in iets heldadig en eerbaar te omskep. Daarteenoor, sien ons ook waar die dood in ‘n goedkoop en oppervlakkige perspektief omgekeer word. Hierdie punte word duidelik sodra ons dink aan gesprekke waar onderwerpe soos die genadedood of aborsie deur familie of kennise bespreek is. Die wêreld, net soos die Christen, soek ook vrede van die angs vir die dood, maar, anders as die Christen, soek die mens volgens sy verdorwe natuur die antwoord orals, behalwe uit die hand van God. So is die wysheid van die wêreld.
Daarteenoor is God se wysheid, waarby die ware sondige oorsprong van die dood, vyandige aard van die dood en onnatuurlike gevolg van die dood, deur God geontbloot is.
Halleluja! God openbaar en seën ons sy kerk met die vrede omtrent die finale, uiteindelike en blywende einde van ons oeroue vyand – die dood. Waarby ons weet en uitsien dat die dood, saam met al God sy vyande, in die poel van vuur gegooi sal word. Hierdie God-gegewe wysheid staan in skerp kontras met die wêreldse wysheid. Dit is immers hierdie wêreld en sy wysheid op die dood wat moet kennis neem dat God aan hulle openbaar “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”