Press "Enter" to skip to content

Die Koms van die Herder-Koning

“En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1).

In ‘n wêreld wat grootheid meet aan uiterlike vertoon, verras God ons telkens met sy keuse van die nederige en geringe. Nêrens sien ons dit duideliker as in die merkwaardige profesie van Miga oor Betlehem nie.

Jerusalem, die trotse hoofstad van Juda, was op daardie stadium onder beleg. Die stad se leiers, wat hulself met mag en rykdom beklee het, sou spoedig verneder word. Hulle het geregtigheid verag, die armes uitgebuit, en God se naam misbruik vir eie gewin, wat tot hul oordeel gelei het.

Maar te midde van hierdie donker toneel van vernedering en oordeel, laat God ‘n lig van hoop skyn. Die beloofde Verlosser sou nie uit die magtige Jerusalem kom nie, maar uit Betlehem – ‘n dorpie so klein dat dit skaars genoem word onder die stede van Juda.

Betlehem beteken, “Huis van Brood”, en Efrata, “vrugbaar.” Hierdie oënskynlik onbelangrike dorpie sou die vrugbaarste plek in die geskiedenis word, want in dit sou die “Brood van die Lewe” gebore word wat die volheid van God se voorsiening en lewe na sy volk sou bring.

Die kontras kon nie groter wees nie. Jerusalem, met sy indrukwekkende tempelmure en koninklike paleis, sou verneder word. Maar Betlehem, die geringe dorpie waar Dawid eeue tevore skape opgepas het, sou die geboorteplek van die Herder-Koning wees.

Ten spyte van Dawid en die daaropvolgende konings se mislukkings, het die Here die belofte lewendig gehou. God gryp dus nie net terug na die beloftes aan Dawid nie, maar plant die saad van ‘n totale nuwe begin. ‘n Nuwe skepping wat deur die Herder-Koning begin en voltooi sou word.

Hierdie dorpie, skaars opgemerk onder die stede van Juda, staan nou as die wieg van die grootste koning wat ooit beloof is. Deur die Herder-Koning se geboorte in Efrata sou dit die vrugbaarste dorpie word in die ganse heelal. Deur die dorpie sou nasies gered word.

Dit ego die profesie van Jesaja, wat gespreek het van ‘n takkie uit die stomp van Isai – ‘n nuwe loot uit die wortels van ‘n afgekapte boom. Dus is Betlehem nie net ‘n geografiese ligging nie, maar ‘n simbool van nuwe lewe en hoop wat voortspruit uit antieke, en heilige oorsprong.

Miga beskryf Betlehem as “gering” onder die stamme van Juda, wat Dawid se eie onwaarskynlike keuse as koning weerspieël – die minste onder sy broers. Tog, net soos Dawid deur God gekies en verhef is, was Betlehem ook bestem om bo sy nederige status uit te styg.

Hierdie transformasie word in Matteus. 2:6 vervul, wat beklemtoon dat die mees vooraanstaande persoon, Jesus Christus, uit die mees onwaarskynlikste plek sou kom, en so God se belofte vervul dat Hy hom daarin verheug om die swakkes te gebruik om die magtiges te beskaam.

Daarom dien Betlehem as ‘n getuienis van God se voorkeur om te werk deur diegene wat die wêreld dikwels oor die hoof sien of verag, wat verseker dat die eer aan God alleen toegeskryf word en nie aan menslike wysheid of krag nie.

In hierdie goddelike keuse van Betlehem word ons dus herinner dat die Messias die Here se planne dien as ‘n dienskneg, nie as ‘n sultan wat sy wil afdwing nie, maar as ‘n Koning wat goddelike geregtigheid en genade uitvoer.

Sy oorsprong, gewortel in historiese afkoms, dra ook ‘n bonatuurlike betekenis van God se verbond met Dawid. Hierdie verbond, gevul met beloftes van ‘n ewigdurende koninkryk, vind sy uiteindelike vervulling, nie in die paleise van Jerusalem nie, maar in die weivelde van Betlehem.

In hierdie nederige velde is die grootste heerser van almal gebore – nie om te oorheers nie maar om herder te wees, nie om homself te verhef nie, maar om die geringe op te hef, en nie om homself te dien nie, maar sy lewe te gee vir sy skape.

Nie as skynbeeld van ‘n leier nie, maar as God, die Herder-Koning, waaksaam en magtig, regeer Hy. Anders as die afwesige leiers van Israel, sal Hy intiem betrokke wees by sy kudde, hulle aktief lei en ywerig beskerm teen alle vyande.

Soos ‘n herder sy skape ken, sal Hy elkeen wat aan sy sorg toevertrou is, by die naam ken en versorg. Hy sal hulle herder wees, nie in die swakheid van menslike krag nie, maar beklee met die onaantasbare sterkte van die Here. Sy heerskappy, geanker in die soewereine mag van God.

In die Naam van die Here sal Hy regeer – elke bevel deurdrenk met heilige goddelike gesag; elke oordeel ‘n weerspieëling van hemelse geregtigheid. Sy teenwoordigheid, ‘n heiligdom; sy woorde, ‘n vesting; sy koninkryk ‘n ryk wat God se heerlikheid en genade weerspieël.

Onder sy goddelike heerskappy daal veiligheid oor die volk neer soos die diep vrede van die skemering – diepgrondig en onbreekbaar. Sy majesteit skyn soos ‘n baken wat uitstraal tot in die verste uithoeke van die aarde, ‘n toevlugsoord van volmaakte vrede waar sy volk floreer.

Net soos God Betlehem gekies het om die geboorteplek van die Herder-Koning te wees, kies Hy vandag nog die geringe dinge om sy koninkryk te bou. Hy soek nie mense wat dink hulle het alles onder beheer nie. Hy soek nederige harte wat bereid is om hom in nederigheid te dien.

Die oorwinning van die Herder-Koning

Die Herder-Koning se koms het egter ook ‘n wêreldwye impak. Hy het gekom, nie net om harte van individue te oorwin nie, maar die nasies. So het God sy verbond met Abraham gesluit – dat hy ‘n volk so groot soos die sterrehemel uit die nasies vir hom sou red.

Miga skilder nou verder in verse 4-5 – ‘n pragtige prentjie van die Herder-Koning se verlossing wat beide tyd en grense oorskry. Hy skilder ‘n prentjie van die Messias as ‘n Herder-Koning, wat nie net lei nie, maar sy mense van hul vyande verlos.

“Hy sal ons vrede wees,” sê Miga. Te midde van die bedreiging deur die Assiriërs, die konflik en boosheid van Israel, en die oordeel wat hulle verdien, weergalm die belofte van vrede, en wys dit na die Messias as die bron van uiteindelike en blywende vrede.

Hierdie vrede is nie bloot die afwesigheid van oorlog nie, maar ‘n herstelde verhouding met God. Deur die bloed van Jesus Christus aan die kruis sou God vrede maak tussen hom en die mens – ‘n brug oor die kloof van sonde wat Skepper en skepsel skei.

Die Assiriërs simboliseer egter nie net ‘n historiese bedreiging in Israel se tyd nie, maar alle magte van boosheid en onderdrukking wat teen God se mense opstaan – die kerk se vyande deur alle eeue. Miga vergelyk dit met Nimrod wie se naam rebellie teen God beteken.

Dus, ‘n simbool van alle wêreld magte wat rebels is teen God in die gees van Nimrod. God gaan hulle egter deur ‘n Herder-Koning, wat in ‘n klein nederige dorpie gebore word, onder sy voete vertrap (Gen. 3:15). Die Here gaan “sewe herders, ja, agt vorste” oprig om sy volk te lei.

Hierdie is nie maar net sommer getalle nie. Sewe verteenwoordig volmaaktheid, en agt gaan selfs verder as dit. God sê basies, “Ek sal meer as genoeg leierskap voorsien, meer as genoeg beskerming, meer as genoeg hulpbronne om julle vyande te oorwin.”

Die inval deur die Assiriërs verteenwoordig dus veel meer as net die onmiddellike bedreiging waarbinne Miga geprofeteer het – die geestelike oorlog tussen die slang en die Lam. Terwyl Israel teen Assirië geveg het, is die ware stryd teen geestelike vyande.

Die groot stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar bose magte in die lug, en die grootste vyand van almal, die afgod in ons eie hart. Die bose drie-eenheid – “me, myself and I.” Ons stryd is teen versoeking van ons eie begeertes, en die Satan wat daarop uit is om die Bruid te vernietig.

Maar net soos God aan Israel oorwinning beloof het, beloof hy aan ons nog groter oorwinning. “Hulle sal die land met die swaard afwei,” sê Miga. Christus het die Satan aan die kruis verslaan, en ons toegerus met sy wapenrusting van Woord en Gees. Ons is nie weerloos gelaat nie!

Ons wapens is wat Paulus noem “die swaard van die Gees” – die woord van God. Ons oorwinning kom deur die bloed van die Lam en die prediking van God se Woord. Hierdie getal sewe en agt dui dus op die omvattende aard van God se oorwinning.

God rus sy kerk toe met geestelike wapens in die vorm van verkondigers van die evangelie. Predikers en lidmate wat die oorlog wen deur die swaard van die Gees – die verkondiging van die evangelie, wat die hele wêreld sal bereik, en ‘n oorblyfsel onder alle volke tot stand sal bring.

Hierdie oorwinning sal die wêreld soos ‘n vloedgolf tref. Daniël het hierdie visie van Miga in nog groter heerlikheid gesien. Die koms van die Herder-Koning sal die aarde soos die klein rots tref en die beeld van koper en klei stukkend slaan, tot dit die hele aarde gevul het.

Wat beteken dit prakties vir ons vandag?

Eerstens, wanneer jy oorweldigende uitdagings in die gesig staar – of dit hardnekkige versoeking, verlammende angs, of selfs vervolging vir jou geloof is – onthou dat Christus meer as genoeg hulpbronne vir oorwinning voorsien het. Jy is nie alleen in die stryd nie!

Tweedens, bly naby jou herders – die geestelike leiers wat God in jou lewe geplaas het. Dit is hoekom ons predikante, ouderlinge en volwasse gelowiges in die kerk het. Hulle is God se voorsiening vir jou beskerming en groei.

Derdens, neem jou swaard op! Verdiep jouself in God se Woord. Dit is waar jou oorwinning lê. Moenie probeer om jou stryd met wêreldse wapens te veg nie. Laat die Skrif eerder jou denke vorm, jou hart bewaar, en jou voetstappe lei.

Laastens: leef met vertroue! Dieselfde Christus wat beloof het om Israel van Assirië te verlos, beloof om jou van elke vyand van jou siel te verlos. “Hy sal ons verlos,” sê Miga. Nie “Hy mag” of “Hy kan” nie – maar “Hy sal.” Dit is ‘n belofte waarop ons ons lewens kan bou!

So mag ons dan hierdie jaar afsluit met hoop. Nie hoop in ons eie vermoëns nie, maar in die krag van ons Herder-Koning wat mens geword het en onder ons kom woon het. Hy het mens geword om ons te verlos van die slawerny van sonde, sodat ons vir God mag leef.

Dit is dan ook in die gees van hierdie nuwe lewe in Christus wat die Scriptura span elkeen van ons luisteraars ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige nuwe jaar wil toebid. Dankie vir die meeleef en deel van ons opnames en artikels. Dankie vir julle gebede en finansiële ondersteuning.

Soli Deo Gloria!
Die Scriptura Span

2 Comments

  1. Sonja Sonja

    Baie dankie vir elke Scriptura span lid, mag julle ook n geseende kersfees tot eer van Jesus ons Herder Koning hê. Hou aan met julle goeie werk.

    • Jaco de Beer Jaco de Beer

      Baie dankie Sonja. Geseënde wense vir jou en jou familie!

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.