Site icon Scriptura

Die Tien Gebooie van die Nuwe Testament

God gee vir ons sy ewigdurende morele wet in Eksodus 20. Dit is die reël vir hoe ons uit dank vir die verlossing wat Hy bewerk moet leef. Ons ken dit as die Tien Gebooie. Hierdie gebooie was met God se eie vinger op klip geskryf en deur Hom aan Moses gegee (Eks. 31:18). Dit was op klip geskryf om daarop te dui dat dit ewig is. Die klip is ook tekenend van die mens se hart, wat so hard soos klip is. Dit is so hard dat niemand buiten God sy wet daarop kan skryf nie (Eseg. 36:26-27). Dit doen God deur die Heilige Gees. Trouens soos God die wet vyftig dae na die uittog uit Egipte op Sinaï gegee het, so gee Hy die Heilige Gees op Pinkster aan die kerk (Hand. 2). Daarom verbaas dit ons glad nie dat God sy wet in die Nuwe Testament herhaal nie.

Die volgende verse wys duidelik hoe God sy Tien Gebooie in die Nuwe Testament aan sy kerk gegee het om in alle eeue tot lof van Sy genade te dien:


Die eerste gebod: Geen ander gode

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)
Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. (Handelinge 4:10-12)


Die tweede gebod: Geen afbeeldings of aanbidding van valse gode, of valse aanbidding van die ware God

Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af. (1 Johannes 5:21)
Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. (Matteus 15:9)


Die derde gebod:   Geen misbruik van God se Naam

Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. (Matteus 6:9)


Die vierde gebod:   Oor werk en rus

Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie. (Kolossense 3:23)
Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. (Matteus 12:8)
Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God. (Handelinge 4:9)


Die vyfde gebod: Eer vir die wat in gesag is

Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. “Eer jou vader en jou moeder” is ‘n baie belangrike gebod. En daar is nog ‘n belofte by. (Efesiërs 6:1)


Die sesde gebod: Moord

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. (Matteus 5:21-22)


Die sewende gebod: Huwelik

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. (Matteus 5:27-28)


Die agste gebod: Arbeid en diefstal

As iemand ‘n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ‘n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. (Efesiërs 4:28)


Die Negende gebod: Waarheid en leuens

En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek. (Kolossense 3:9)


Die Tiende gebod: Wederregtelike begeertes

Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” (Romeine 7:7)
As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. (Jakobus 4:3)

Outeur: Nikolaas Pienaar van die Gereformeerde Kerk Hermanus

Exit mobile version