‘n Artikel deur John Piper, vertaal deur Ds Nikolaas Pienaar van die Gereformeerde Kerk Hermanus, met gepaste liedere. John Piper skryf:
Ek het oorspronklik hierdie artikel geskryf op die vooraand van chirurgie vir my prostaatkanker. Ek het toe geglo, soos ek steeds doen, in God se krag om te genees – deur sowel wonderwerke as medisyne. Ek is oortuig dat dit goed en reg is om vir beide soorte genesing te bid. Kanker word nie vermors wanneer God dit genees nie. So, om nie vir genesing te bid nie, kan jou kanker vermors.
Maar genesing is nie God se plan vir almal in hierdie lewe nie. En daar is baie ander maniere om ons kankers te vermors. Soos ek vir myself gebid het, en steeds doen, bid ek ook vir jou, dat ons nie hierdie pyn sal vermors nie.
Op hierdie oomblik (vyf jaar na my chirurgie) blyk dit dat hulle dit “gekry” het. Maar ek het al geleer dat ons die een dag dink dat alles goed gaan met ons, net om die volgende dag uit te vind dat dinge nie so goed is nie. So wanneer mense my deesdae vra hoe dit met my gesondheid gaan sê ek: “Ek voel eerste klas en die dokters is tevrede”, wat as mens dit vertaal die volgende beteken: “Ek weet nie hoe dit met my gesondheid gaan nie; net God weet.”
Dat God weet en omgee en regeer is genoeg. Die gedeelte uit die Skrif wat in my gedagtes gekom het terwyl ek vir die biopsie gewag het, was 1 Tessalonisense 5:9-10: “God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.” Dit is genoeg. Ek is nie bestem vir die straf nie, maar om saam net Christus te lewe.
Totdat ons Hom sien, mag God ons help om nie ons gesondheid of ons kanker te vermors nie.
Psalm 32:2, 3
2. Toe ek voor U al worst’lende verstom het, geen boetgebed my uit die hart gekom het, het my gebeent’, verskrik deur my geklag, verswak en uitgeteer die ganse dag. U hand het swaar gedruk op al my lede: bedags geen rus, en snags geen stem van vrede; my krag het weggedroog van uur tot uur soos velde deur die somersonnevuur. |
3. Ek het bely, O HEER! – in sielerou nie my hart gegrendel of my mond weerhou nie. Ek het bely wat my van U vervreem, U het my skuld genadig weggeneem. Dus kom Gods vol, dus kom al sy bemindes om Hom te soek terwyl sy guns te vind is; die lewensee mag met sy golwe slaan, dit deer hul nie, dit raak hul selfs nie aan |
1. Ons vermors ons kankers as ons nie in ons eie versugtinge die hoopvolle geboortepyne van die gevalle wêreld hoor nie
Alle lyding is die resultaat van die sondeval van ons eerste ouers, Adam en Eva. God het hierdie wêreld aan verydeling onderwerp vanweë hul ongehoorsaamheid (Rom. 8:20). In hierdie sin is alle lyding oordeel. Maar aangesien Christus ons oordeel gedra het, is dit nie wat lyding vir die gelowige beteken nie. Vir ons het die versugtinge van siekte die geboortepyne van die nuwe skepping geword. “Ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam” (Rom. 8:22-23).
Toe God die wêreld aan verganklikheid onderwerp het, het Hy dit gedoen met die belofte van hoop dat “Die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Rom. 8:21). So is dit dan dat die versugtinge wat ons deur ons kankers het, ‘n dubbele betekenis het. Dit beteken dat sonde verskriklik is, en dit beteken dat daar ‘n heerlike vryheid op pad is. Ons sal ons kankers vermors as ons nie ons nie ook in ons eie versugtinge die geboortepyne van die nuwe skepping hoor nie.
Geboortepyne beteken dat iets wonderliks op pad is. Dit is wat ons kankers beteken. “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor. 4:17). Moenie jou versugtinge verkeerd vertolk nie. Moenie die getuienis van jou eie kanker vermors nie.
Psalm 38:1, 7, 8, 17
1. Straf tog nie in ongenade my misdade, HEER, verdra my met geduld. Wil tog nie in toorn ontsteek nie en U wreek nie op my sonde en sondeskuld. 7. Uitgeteerd deur al my klagte is my kragte gans verbrysel en tot niet. In my hart se afgrond ruis dit, aaklig bruis dit – daarom brul ek in verdriet. |
8. HEER, U weet hoe hart en sinne staan daarbinne as ek worstel in my leed. Voor U is my sugte en sorge nie verborge, daar U alles sien en weet. 17. Wil my, HEER, in hierdie lewe nie begewe; wees nie ver van my gebed! Hoor die roepstem van ‘n lyder, o Bevryder wat my altyd uit wou red. |
2. Ons vermors ons kankers as ons nie oortuig is dat dit deur God vir ons beplan is nie.
Dit sal ons nie baat om te sê dat God alleenlik ons kankers gebruik maar dit nie ook ontwerp het nie. Dit wat God toelaat laat Hy vir ‘n rede toe. En daardie rede is sy plan, sy ontwerp. As God die molekulêre ontwikkeling wat kanker word voorsien, kan Hy dit keer, of nie. As Hy dit nie doen nie, het Hy ‘n doel daarmee. Aangesien Hy oneindig wys is, is dit reg om sy doel ook ‘n plan te noem.
Satan is werklik en hy gebruik baie vreugdes en pyne. Maar hy is nie in beheer nie. Wanneer hy vir Job met pynlike swere tref (Job 2:7); skryf Job dit per slot van rekening aan God toe “Die goeie wat van God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” (Job 2:10). Ook aan die begin van sy herstel erken dié wat met hom medelye het en hom troos dat dit die Here is wat die rampe oor hom gebring het (Job 42:12).
Psalm 73:1, 10, 11, 12
1. Voorwaar, God is vir Isr’el goed, vir wie opreg is van gemoed. Gods weg kan nooit so donker wees nie, dat Hy nie sorg vir wie Hom vrees nie. Maar ag, hoewel my siel dit weet, tog het my voet haas in my leed gewankel en dit was vir my so donker dat my voet wou gly. 10. Nogtans sal’k altyd by U bly; niks sal my van U liefde skei – U wat my regterhand gevat het, vir wie’k van harte liefgehad het. U sal my voortlei deur u raad, O God, my Hulp, my Toeverlaat. en na die dag van aardse stryd, my opneem in u heerlikheid. |
11. Wie het ek in die hemel, HEER – wie kan ek newens U begeer? wat het ek waar my hart, onrustig, hom op die aarde in kan verlustig? Beswyk dan ooit in bittersmart of bange nood my vlees en hart, dan sal U wees vir my gemoed my rots, my deel my eewge goed. 12. Wie ver van U sy weg vil gaan, stap op ‘n donker afgrond aan. U roei hul uit wat U gesmaad het, in troueloosheid U verlaat het. Maar dis my goed, my saalge lot, as Ek naby is by my God. Ek het my hoop op God gestel om al sy werke te vertel |
3. Ons vermors ons kankers as ons glo dat dit ‘n vloek en nie ‘n gawe is nie.
‘n Pa wat sopas sy kind verloor het, het my gevra, “Kan ‘n gelowige gesin vervloek wees?” Soveel dinge het opgehoop. My antwoord is nee, maar dit kan sekerlik so voel. Satan poog om sommige van ons te vernietig deur ons gesondheid en welvaart te vermeerder, wat ons geloof kan verstik (Matt. 13:22). En hy probeer om ander te vernietig deur hul pyn te vermeerder (Luk. 13:16).
Maar die rede dat ek sê dat God se volk nie vervloek kan word nie is dat God aan hulle gesê het: “Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie” (Num. 23:23). En, meer belangrik, vir die wat Christus vertrou en met Hom verenig is, en in Hom is daar nou geen veroordeling nie (Rom. 8:1). Geen vervloeking. “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word” (Gal. 3:13). Christus het die vloek van ons veroordeling en die vloek van ons siektes op Hom geneem.
Dit beteken dat die siektes wat ons nog verduur nie ‘n vloek is nie. Christus het hulle getransformeer sodat hulle nie meer ‘n bestraffende weg na die hel toe is nie, maar ‘n reinigende pad na die hemel is. So moeilik as wat dit is om so te voel, is ons oortuig dat God nie besig is om die goeie van ons te weerhou nie. Hy is besig om goed te doen.
Psalm 84:1, 4, 6
1. Hoe lieflik is u wonings, HEER der leërskare! Hoe begeer my siel en hunker van verlange om na Gods woning op te gaan en in u tempelpoort te staan met jubelende lofgesange. My hart en vlees, o God, roep luid tot U wat leef verlangend uit. |
4. Hul sal van krag tot krag steeds gaan totdat hul voet in Sion staan: Geeneen wat daar nie sal verskyn nie. Let, HEER, der leërskare, let op my geroep, hoor my gebed, en laat my nie in druk verkwyn nie. Lee my ‘n toegeneë oor: o Jakobs God, gee my gehoor! |
6. ‘n Son en skild is onse HEER; Hy sal genade gee en eer, want Hy word nooit sy woord ontrou nie: Hy sal aan almal wat opreg Hom dien en wandel in sy weg, die goeie nimmermeer onthou nie. Welsalig, HEER, wie op U bou, aan U geheel hom toevertrou. |
4. Ons vermors ons kankers as ons eerder troos uit ons kanse as van God af soek.
God se ontwerp met ons kankers is nie om ons op te lei in die rasionele, menslike berekening van ons kanse nie. Die wêreld ontvang troos uit kanse. Nie gelowiges nie. “Sommige vertrou op strydwaens (hul kanse van oorlewing) en ander op perde (die newe-effekte van behandeling), maar ons, ons vertrou op die Naam van die Here ons God. (Psalm 20:7). God se ontwerp is duidelik uit 2 Kor. 1:9: “Trouens dit het vir ons gevoel asof die doodsvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”
God se plan met ons kankers (tussen duisende ander goeie dinge) is om die steunsels van onder ons harte uit te slaan sodat ons alleen op Hom sal vertrou.
Psalm 115:1, 3, 5, 6
1. Nie aan ons, o troue God, aan u Naam alleen gee eer! Waarom sou die nasies spot as hul oor ons triomfeer? Om u goedheid wees nies stil! Red ons om u trou ontwil! 3. Gode van die heidendom, goue of silwerbeeltenis, waar die mens sy knie voor krom, niks as eie maaksel is: daar’s ‘n mond, maar sonder taal; daar’s ‘n oog, maar sonder straal. |
5. Voete het hul, vasgeklem aan die altyd-selfde oord; hulle keel – geen klank of stem kom uit tempelstilte voort. Laat dié wat hul dien en vrees, soos hulself, so nietig wees. 6. Israel, steun op die HEER! Hy’s ons hulp; hul skild is Hy. Arons huis, steun op die HEER! Hy’s hul hulp; hul skild is Hy. Almal wat die Here vrees, Laat die HEER jul steunsel wees! |
Ons sal almal sterf as Jesus sy wederkoms uitstel. Om nie daaroor na te dink oor hoe dit sal wees om hierdie lewe te verlaat en die Here te ontmoet nie, is dwaasheid. Prediker 7:2 sê: “Dit is beter om na ‘n huis toe te gaan waar daar gerou word (‘n begrafnis) as na ‘n huis waar daar feesgevier word. Elkeen wat lewe moet ter harte neem wat die uiteinde van die mens is.” Hoe kan ons dit ter harte neem as ons nie eens daaroor nadink nie? Psalm 90:12 sê: “Leer ons ons dae so te tel dat ons wysheid bekom.” Om ons dae te tel beteken dat ons moet nadink oor hoe min hulle is en dat hulle tot ‘n einde gaan kom. Hoe sal ons wysheid kan bekom as ons weier om hieroor na te dink? Dit is ‘n vermorsing as ons nie oor die dood nadink nie.
5. Ons vermors ons kankers as ons weier om oor die dood na te dink.
Psalm 90:1, 2, 7, 8
1. U was, o HEER, vanaf die vroegste jare vir ons ‘n vlug en skuilplek in gevare. Voordat die rotsgebergtes was gebore, die aarde uit niks geroep was lank tevore – Is U, o HEER, dieselfde God van mag, onwankelbaar in wese en in krag. 2. Hoe nietig is die mens! wat is sy lewe? Wat het die mens, al is hom veel gegewe? U knak die steel van sy geswinde jare, en hy gaan heen net soos die najaarsblare. Want in u oog is duisend jare, HEER, ‘n enkle dag, ‘n nagwaak en niks meer. |
7. Maar wie kan leef met enkel voort te klae?… Leer ons dan so te tel ons lewensdae dat wysheid ons kan voortlei in ons gange, ons hart kan vul met dankb’re lofgesange. Hoe lank, o HEER? … Ons dae gaan verby! Keer tot ons weer, betoon ons medely! 8. En as die leed van jare uitgely is, verkwik ons vroeg, wanneer die nag verby is; ag, skenk ons, HEER, die blyk van welbehae, verbly ons na die smart van al ons dae en na die swaarte van die sware proef, waarmee U ons wou tugtig en bedroef. |
6. Ons vermors ons kankers as ons dink dat om kanker te “klop” bloot beteken dat ons aan die lewe bly eerder as om vir Christus te koester
Satan en God se plan in ons kankers is nie dieselfde nie. Satan wil daardeur ons liefde vir Christus vernietig. God werk daardeur om ons liefde vir Christus te verdiep. Kanker wen nie as ons sterf nie. Dit wen as ons daarin misluk om Christus te koester. God wil ons leer om nie van die wêreld afhanklik te wees nie, maar ons op die genoegsaamheid van Christus te versadig. Dit is bedoel om ons te help om te sê en voel, “Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde” (Fil. 3:8) en om daarom te weet, “Om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins” (Fil. 1:21).
Skrifberyming 3-4:1-5 (Filippense 1:20-27)
1.U Christus is my lewe, die sterwe wins vir my. In lewe en in sterwe is ek aan U gewy. 2. As ek nog hier moet lewe, beteken dit vir my dat ek vir die gemeente nog langer diensbaar bly. |
3. Maar as ek nou moet sterwe om by die Heer te wees – ook dit is my verlange, ook daartoe dring my gees. 4. Ek word van beide kante gedring, ek kan nie kies – in Hom is dood of lewe vir my nie ‘n verlies. |
5. U is my hoogste vreugde, aan U is ek gewy; In lewe en in sterwe sal U steeds by my bly. |
7. Ons vermors ons kankers as ons te veel tyd spandeer om oor kanker op te lees en nie genoeg tyd spandeer om oor God te lees nie.
Dit is nie verkeerd om ingelig oor jou kanker te wees nie. Onkunde is nie bemagtigend nie. Maar die strik om terselfdertyd meer en meer oor kanker te weet as wat jy dit nalaat om God beter te leer ken, is simptomaties van ongeloof. Kanker is bedoel om die bewustheid van God by ons wakker te maak. Dit is bedoel om gevoel en krag en dringendheid in ons strewe om die bevel: “Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy” (Hos. 6:3) toe te voeg. Dit is bedoel om die werklikheid van Daniël 11:32 by ons aan te wakker: “Die volk wat hulle God ken sal vashou en optree.” Dit is bedoel om onwankelbare onvernietigbare eikebome van ons te maak: “maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tye vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (Psalm 1:2-3). Wat ‘n vermorsing van kanker, as ons dag en nag oor kanker oplees en die Woord van die Here nalaat.
Psalm 119:39
39. HEER, u woord is my ‘n fakkel wat sy ligglans voor my dra, voor my voet die duisternisse van my lewenspad verja. ‘k Het gesweer, deur u ontferming dit bevestig, dat ek my, van ‘n wêreldnag omgewe, deur die ligglans wil laat lei. |
8. Ons vermors ons kankers as ons toelaat dat dit ons na eensaamheid dryf pleks dat dit ons verhoudings met uitgedrukte emosie verdiep.
Toe Epafroditos die geskenke na Paulus gebring het wat die Filippense kerk gestuur het, het hy so siek geword dat hy amper gesterf het. Paulus sê vir die Filippense: “Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het” (Fil. 2:26). Wat ‘n treffende reaksie! Dit sê nie dat hulle ontsteld was dat hy siek was nie, maar dat hy hom gekwel het omdat hulle gehoor het dat hy siek is. Dit is die tipe houding wat God mik om in mense met kanker te kweek: ‘n besorgde, deernisvolle hart vir mense. Moenie jou kanker vermors deur in jouself in te trek nie.
Skrifberyming 5-1:1, 3, 6 (Die Kruiswoorde)
1. Oor die kruis neersinkend, bid Hy: “Vader ag vergeef hul dit, want hul weet nie wat hul doen nie.” As Hy so sy bede bid, dan weerklink daar, slag na slag, hamerhoue van die wag. |
2. By die kruispaal staan Maria, en Johannes word haar kind: deur die kruiswoord: “seun” en “moeder”, word sy aan sy sorg verbind. En hy’t haar, van nooddruf vry, al sy liefde toegewy. |
6. Toe die offerwerk verby was, na God hoë ordening, het die Heer, sy daad deurgrondend, uitgeroep: “Dit is volbring!” En, die hoof omlaag gebuig, het Hy sterwend dit betuig. |
9. Ons vermors ons kankers as ons treur soos die wat geen hoop het nie
Paulus maak die uitdrukking om te treur soos die wat geen hoop het nie van toepassing op die wie se geliefdes gesterf het: “Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie” (1 Tess. 4:13). Daar is ‘n hartseer by die dood. Selfs vir die gelowige wat sterf, is daar ‘n tydelike verlies – verlies van liggaam, verlies van geliefdes wat agterbly, en die verlies van jou aardse bediening. Maar die verlies is anders, dit is deurdrenk met hoop. “Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon” (2 Kor. 5:8). Moet nie jou kanker vermors deur te treur soos iemand wat geen hoop het nie.
Psalm 43:1, 3, 4, 5
1. HEER, doen my reg, hoor my gebede, en twis my twissaak tog vir my! Want waar ek heengaan, skrede op skrede, beleër my ‘n bose en wrede, ‘n huigelende teenparty wat my my saak bestry. 3. Send, HEER, uit hemelse geweste u lig en waarheid neer op my! Laat die my bring na Sions veste, want daar is’t my die allerbeste, waar ek, u woning ingelei, my in u diens verbly. |
4. Dan gaan ek in na Gods altare, tot God, my God, my vreugde en lied; dan speel ek met die harpenare, dan ruis vir U my blye snare – vir U wat my, na kort verdriet, ‘n eewge vreugde bied. 5. My siel, wat treur jy nog verslae en is onrustig in jou lot? Berus slegs in Gods welbehae; strek uit jou hoop na beter dae. Verrys, herleef op sy gebod – my redder is my God! |
10. Ons vermors ons kanker as ons sonde so klakkeloos as voorheen beskou.
Is ons boesem sondes nou so aantreklik vir ons as hulle was voor ons kanker gehad het? Indien wel vermors ons ons kanker. Kanker is ontwerp om ons aptyt vir sonde te vernietig. Trots, gierigheid, haat, onvergewensgesindheid, ongeduldigheid, luiheid, uitstel – hierdie is alles teenstanders wat kanker bedoel is om aan te val. Moet nie net daaraan dink om teen kanker te stry nie. Dink ook daaraan om saam met kanker te stry. Al hierdie dinge is erger vyande as kanker. Moenie die krag van kanker om hierdie vyande te vernietig vermors nie. Laat die teenwoordigheid van die ewigheid hierdie sondes so nutteloos laat lyk as wat hulle rêrig is. “Wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor en te gronde gaan?” (Luk. 9:25)
Skrifberyming 9-3:1, 2 (Rom. 13:8-14)
1. Voor u wet, Heer, staan ons skuldig. Liefde is die groot gebod! Liefde is ons steeds verskuldig aan ons naaste en ons God. Ons wil u gebod bewaar, maar ons struikel baie kere. Leer ons liefde vir mekaar, maar bo al vir U, o Here. |
2. Liefde doen aan niemand kwaad nie – dis vervulling van die Wet. Die gebod mag ons nie laat nie, maar met ywer daarop let. Ons weet ver is reeds die nag: ken die tydsomstandighede – weldra breek die volle dag. Wek ons, Heer uit valse vrede! |
11. Ons vermors ons kankers as ons misluk om dit gebruik as ‘n middel om die van waarheid en heerlikheid van Christus te getuig.
Gelowiges word nooit iewers geplaas deur goddelike toevalligheid nie. Daar is redes hoekom ons is waar ons is. Dink wat ons Here Jesus gesê het oor pynlike, onbeplande omstandighede: “Hulle sal julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in die gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om van My te getuig” (Luk. 21:13-13). So is dit ook met kanker. Hierdie is ‘n geleentheid om te kan getuig. Christus het oneindige waarde, en hier is ‘n geleentheid om te wys dat Hy meer waardevol as die lewe is. Moenie dit vermors nie.
Onthou, jy is nie alleen nie. Jy sal die hulp ontvang wat jy in jou nood nodig het. “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” (Fil. 4:19).
Skrifberyming 14-1:1-3 (Rom. 13:11-14)
1. Waak, Christen, staan in die geloof dat niemand jou die kroon ontroof! Wees wys en dapper, sterk en moedig, – steeds toegewy aan God se werk, standvastig onbeweeglik, sterk, vol ywer, altyd meer oorvloedig – dan sal jou arbeid in die Heer tot seën wees sy Naam ter eer! |
2. Wees, Christen, in jou Heer versterk, want Hy wil altyd in jou werk om kwaad en sonde te weerstrewe. verrig jou taak met vaste hand, en doen jou woord altyd gestand; wil daarby rein en matig lewe. En wil die Here dat jy ly, o Christen, leer geduld daarby! |
3. Beoefen die godvrugtigheid en wees jou medemens altyd tot voorbeeld in jou lewenswandel. Jy moet uit eerbied teenoor God, in opdrag van die groot gebod, uit liefde tot die naaste handel. O God, staan met u Gees ons by sodat U liefde in ons bly. |
Hierdie potgooi / artikel is deur verskeie lede van die Scriptura-span saamgestel en geskep.
Be First to Comment