Romeine 6:1-11 Opgewek tot ‘n nuwe lewe deur die Here se krag
Jesus se opstanding uit die dood beteken baie vir ons in die verlede. Ons deel in sy geregtigheid. Ons is regverdig voor God. Ons is gered en vergewe. Dit staan vas. Dit het gebeur.
Jesus se opstanding beteken baie vir ons in die toekoms. Omdat Hy uit die dood opgestaan het, sal ons ook uit die dood uit opstaan. Dit staan vas. Dit sal gebeur.
Wat beteken Jesus se opstanding uit die dood uit vir vandag? Wat is die nut van sy opstanding vir ons in ons alledaagse lewe? Wat beteken sy opstanding vir ons in die hede? Wat beteken sy opstanding vir ons waar ons nou lewe en teen die sonde stry?
Sy opstanding gee nie net troos en sekerheid in die verlede en toekoms nie, maar ook vir vandag. Sy opstanding maak dit duidelik dat ons dood vir die sonde is en dat ons lewend vir God is. Christus se opstanding herinner ons daaraan. Ons doop gee ons die versekering dat ons in sy dood en opstanding deel.
Dood vir die sonde en lewend vir God
Na die sondeval is elke mens dood in die sonde. Nie siek nie, maar dood. Jy kan niks self doen om weer lewendig te word nie. Die sonde en duiwel is is jou baas, selfs wanneer jy dink dat jy vry is.
Wanneer jy in Jesus Christus glo, wanneer jy styf vashou aan sy dood en opstanding, het jy ‘n nuwe Here. Hy het die sê oor jou lewe.
Romeine 6 begin met ‘n vraag: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef sodat die genade kan toeneem?” Nadat die Romeine op God se groot genade gewys is, word hierdie vraag gevra. Wanneer jy God se genade nie reg verstaan nie, kan jy dink dat jy nou maar kan lewe soos jy wil.
Genade beteken om die teenoorgestelde te kry van wat jy verdien. Ons elkeen verdien die ewige dood as straf op ons sonde, maar God se kinders kry die ewige lewe. In Jesus Christus is ons nie meer die ou mens wat deur die sonde oorheers word nie. Ons is vrygemaak van die sonde. Jesus is nou ons Here. Die sonde heers nie meer oor ons nie. Ons is dood vir die sonde.
Dit beteken natuurlik nie dat ons in hierdie lewe nie meer die gevolge van die sonde ervaar nie. Dit beteken ook nie dat ons nie in hierdie lewe teen die sonde stry nie. Meeste van ons kan getuig van hierdie stryd. Oor hoe ons soms so moedeloos raak oor die sonde.
Nou word ons herinner en getroos in Romeine 6. Ons is dood vir die sonde. Die sonde heers nie meer oor ons nie. Jesus het ons sonde op Hom geneem. Die ou mens is saam met Hom begrawe. Ons is nie meer slawe van die sonde nie. Ons stry teen die sonde as oorwinnaars.
Met hierdie versekering en troos kan ons teen die sonde stry! Ons kan vasgryp aan Jesus Christus en weet dat ons aan Hom behoort. Wanneer ons in hierdie stryd val, hou ons aan Hom as ons Verlosser en Saligmaker vas.
Iemand wat dood is vir die sonde, iemand wat God se genade ken, lewe nie in die sonde voort nie.
Ons is saam met Christus begrawe EN ons is saam met Hom opgewek. Dieselfde krag waarmee ons Here Jesus uit die dood opgewek is, is die krag waarmee ons opgewek is tot ‘n nuwe lewe. ‘n Lewe wat ons vir God lewe. ‘n Lewe waarin ons al hoe meer heilig gemaak word. ‘n Lewe waarin die sonde nie meer oor ons heers nie en ons nie aan onsself behoort nie. ‘n Nuwe lewe waarin ons aan ons Here Jesus Christus behoort. Hy het ons Syne gemaak. Die nuwe lewe leef ons nie vir onsself nie, maar vir God. Nie uit eie krag nie, maar as mense wat kragtig opgewek is uit die dood tot die nuwe lewe.
In die nuwe lewe bepaal ons ook nie self hoe ons lewe en hoe God ons heilig maak nie. Hy sê vir ons in sy Woord hoe ons leef. Hy werk in ons deur die Heilige Gees. Hy lei ons om teen die sonde te stry en uit te sien na die dag wanneer die stryd verby is.
As mense wat die nuwe lewe leef, luister ons na God se Woord. Hy sê tog hoe sy kinders Hom moet dien en hul liefde aan Hom bewys. As mense wat die nuwe lewe leef, fokus ons nie op die aardse nie, maar sien alles wat ons doen in die lig van ons verhouding met die Here. Soos ons in Kolossense 3:1,2 geleer word: “As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie.” Alles wat ons doen, doen ons in die lig van ons verhouding met God. Alles wat ons doen, doen ons in die lig van die ewige lewe. Ons vra oor elke ding: Hoe gaan ek God hiermee die meeste verheerlik?
Nie net is gelowiges dood vir die sonde nie, ons is ook lewend vir God. Daar is nie net lewe na die dood nie, daar is lewe voor die dood ook! ‘n Lewe waarin ons God se genade ervaar. ‘n Lewe waarin ons aan Christus se dood en opstanding kan vashou en weet dat Hy die sonde oorwin het. ‘n Lewe waarin ons kan weet dat ons God se kinders is. ‘n Lewe waarin ons kan weet dat omdat Christus die sonde en die dood oorwin het, is die swaar en moeilike dinge wat ons beleef nie God wat ons straf nie, maar Hy wat ons as sy kinders heilig maak en vorm.
Wanneer jy moedeloos is in jy stryd teen die sonde. Wanneer jy moedeloos is van al die beproewings wat oor jou pad kom. Wanneer jy dink dat jy nie meer krag het nie. Dink aan Jesus se dood en opstanding. Jy behoort aan Hom. Jy word heilig gemaak. Jy lewe vir God.
Dink aan jou doop
Hoe weet die gelowige dit? Jy glo. Geloof is ‘n geskenk van God. Jy hou aan jou doop vas. Om een of ander rede dink ons as gelowiges heeltemal te min aan ons doop. Ons vergeet so maklik dat die doop ‘n teken en seël is wat daarop wys dat ons skoongewas is met Christus se bloed.
Die doop wys dat Christus jou skoongewas het van al jou sonde. Die doop wys dat die Heilige Gees jou opgewek het tot ‘n nuwe lewe. Die doop wys dat jy aan die Here behoort. Die doop self red jou nie. Die doop wys op dit wat Christus gedoen het.
In Romeine 6:4 lees ons: “Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.” Die doop wys vir ons dat ons dood is vir die sonde en lewend is vir God.
Dink meer gereeld aan jou doop! Hou vas aan jou doop. Onthou dat jy dood is vir die sonde en lewend is vir God. Stry teen die sonde as iemand wat weet dat jy in Jesus Christus se oorwinning deel. Volhard deur die beproewings as iemand wat weet dat die Here besig is om jou heilig te maak.
Jesus Christus het uit die dood opgestaan. Dit gee sekerheid: Jy is regverdig gemaak. Dit gee hoop: Jy sal eendag liggaamlik uit die dood uit opgewek word. Dit gee troos en betekenis: Jy is opgewek tot ‘n nuwe lewe wat jy nou leef. Hou vas aan die kruis en opstanding, dink aan jou doop, en lewe vir God.
Gerhard is tans predikant by die Gereformeerde Kerk Komatipoort
Be First to Comment